AFD 11. KERN EN KONKLUSIE: DIE LIED VAN DIE LIEDERE
Die samevattings aan die einde van elke afdeling is reeds ‘n opsomming van die studie. Die volgende twee paragrawe probeer om die kern uit te lig.
Die verbondsopdragte aan ‘n gelowige getroude man en vrou is om saam kinders te kry en op te voed in die vrees van die Here en saam goed oor die goeie skepping te heers. In dié eenheid is die man die hoof en die vrou sy helper. Christus is die hoof van die gemeente en Hy het sy bruid so liefgehad dat Hy sy lewe welbewus vir haar gegee het. Só moet die man sy vrou liefhê. Die gemeente moet luister na al die woorde van Christus en nie uitsoek wat haar pas nie. Só moet die vrou haar man liefhê.
Dat Adam as manlike hoof en leier geskep is en Christus die laaste manlike Adam is, toon aan dat gelowige, bekwame en wyse mans die leiers van die gemeente moet wees. Dié wat hulle eie huise goed regeer kan predikante, ouderlinge en diakens word van Christus se bruid, die huis van God.
Mense wat uit die Bybel wil aflei dat man en vrou gelyk is en vroue alle kerklike ampte kan beklee, gaan dikwels uit van die gedagte dat die Ou Testament deur ‘n Midde-Oosterse manlike kultuur gekleur is waarin die man ‘n alleenheerser is en sy vrou ‘n soort slavin.
Maar wat dan van ‘n boek soos Rut? Het Boas en Rut mekaar nie hartlik liefgehad nie? Sommige mense beskou die boek as die mooiste liefdesgeskiedenis wat nog ooit geskryf is. Rut is nie ‘n aktivis vir vroueregte nie, sy bely U God is my God, noem haarself dienares, 1Rut 1:9; 3:9 ontvang die leidinggewende Boas as man en hulle kry saam ‘n seun as voorvader van Dawid en Jesus Christus.
In die redenasies oor die Ou Testamentiese heer 21 Petr 3:6 en dienares 31 Sam 25:41; 1 Kon 1:13, 17 word die boek Hooglied, die lied van die liedere, nie genoem nie. Die direkte proefvertaling gee: My liefste is myne en ek is syne! 4Hoogl 2:16; 6:3; 7:10 In sy liedere beskryf hy hoe mooi sy is, en getrou, en die belofte van lewe inhou: O, hoe mooi is jy, my liefling, hoe mooi is jy! Jou oë is duiwe agter jou sluier, jou hare ‘n trop bokke wat teen die berge van Gilead afstroom … ‘n Toegesluite tuin is my suster, my bruid, ‘n toegesluite put, ‘n verseëlde fontein … Jy is n fontein vír tuine, ‘n put met lewende water wat van die Libanon af vloei. 5Hoogl 4:1, 12, 15 vars = letterlik lewende water Sy noem hom haar koning, 6Hoogl 1:4, 12 nie een met voete van klei nie, maar ‘n groot, heerlike man: Sy voorarms is ronde stawe goud met turkoois versier. Sy buik is gepoleerde ivoor, oortrek met lasuur. Sy bene is marmerpilare wat rus op voetstukke van fyngoud; sy gestalte is soos die Libanon, uitsonderlik soos die seders. 7Hoogl 5:14-15
Konklusie: In die mooi, skoon liefde van bruidegom en bruid, van hoof en liggaam, van vader en moeder, skitter die genade van God en vandag al die begin van die ewige vreugde. 8van der Waal, 1979: 289
Gerard Schuring, Leeupoort, Sept 2019
Voetnote