1. INLEIDING
Die boek Eksodus handel oor God se verbondstrou en sy verbond met Israel. Hy bly getrou aan sy verbond met die herder-konings Abraham, Isak en Jakob. In daardie verbond het Hy belowe dat Hy die land Kanaän aan hulle nageslag sal gee en dat Hy hulle God sal wees (Gen 17:7-8). Eksodus vertel dat God hierdie beloftes nakom. Hy verlos die nageslag, die volk Israel, uit Egipte om hulle na die Beloofde Land te laat optrek (Eks 3:8). Ook sluit Hy met hulle ‘n nuwe verbond wat sê dat hulle sy volk en Hy hulle God is. Hulle sal vir Hom ‘n volk van tempeldienaars wees (Eks 6:6; 19:5-6).
Die verbond wat Hy met Israel sluit is ryker as die verbond wat Hy met hulle voorvaders gesluit het. In die ou verbond met Abraham, Isak en Jakob het Hy nooit belowe dat Hy in ‘n tabernakel by hulle sal woon nie en dat hulle tempeldienaars, hofdienaars, sal wees nie. ‘n Tabernakel is ‘n woonplek. Hier gaan dit oor die woonplek van God, dus oor God se tempel, God se paleis.
Aan Israel belowe God in die nuwe verbond dat hy in ‘n verskuifbare tabernakel tussen hulle sal woon en saam met hulle sal trek na die Beloofde Land (Eks 25:8; 33:16). Die HERE is die Koning van alle lande en van alle volke. Hy is die Koning van die konings. Hy kon enige volk as sy eie volk gekies het, en enige land as die plek waar Hy sy tempel gaan oprig. Hy het nie die “beskaafde”, “gekultiveerde” Egiptiese of Hetitiese volk en ryksgebied as sentrum gekies nie. Sy keuse was die veragte slawevolk Israel wat boonop nog ‘n hardnekkige volk is. Israel was nie beter as ander volke nie. Hy het dit gedoen omdat Hy dit self so verkies het en omdat Hy getrou wou wees aan die verbond met hulle voorvaders (Deut 7:6).