PSALMS, LOFSANGE EN GEESTELIKE LIEDERE

Koning Dawid met ‘n harp en die boom van Isai.
Gotiese gebrandskilderde glasvenster in die Notre-
Dame katedraal, 13e eeu. Afgelaai in 2023: D Winzen,
‘David, proto-type of Christ’, Living Bulwark. Des 2012.

Inleiding en doel
Die opdrag van die Here deur Paulus aan die gemeentes van destyds en vandag in Ef 5:19 en Kol 3:16 is om ‘psalms en lofsange en Geestelike liedere’ te sing. Die drie woorde is ‘n trits. Volgens sommiges verwys dit net na die psalms, ander meen dit dui op die psalms en kantieke (ander liedere in die Bybel) en dan is daar hulle wat dit uitbrei om ook gesange in te sluit wat nie in die Bybel staan nie. Die doel met die studie is om die trits in die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament, die Septuagint (LXX), te ondersoek(1) om te probeer vasstel wat Paulus met die trits bedoel.

(1) Rahlfs en BHS4 is gebruik. Afkortings en bronne is gelys aan die einde. Die teksverwysings is na Afr 53. Griekse en Hebreeuse woorde is getranskribeer en vertaal asook aanhalings uit ander tale.

Betekenis van ‘n trits
Daar is baie tritse in die Bybel waarvan die woorde afsonderlik op ‘n verskeidenheid en saam op ‘n omvattende eenheid wys:

verskeidenheid omvattende eenheid
vreemdeling, wees en weduwee allerlei hulpbehoewendes Deut 24:19
goud, wierook en mirre allerlei skatte Matt 2:11
ouderlinge, owerpriesters en skrifgeleerdes die hele Raad Mark 15:1
wet, profete en psalms die hele OT Luk 24:44
psalms, lofsange en Geestelike liedere allerlei liedere in die Skrif Ef 5:19, Kol 3:16

Afsonderlik kan die drie meervoude verskillende psalm-bundels in die denke van die destydse Christene (Jode en Grieke) oproep. By psalms kan die gedagtes uitgaan na die daaglikse psalms (Ps 24, 48, 87, 94, 81, 93 en 92), by lofsange kan aan die Hallel (Ps 113-118) gedink word en liedere kan herinner aan die pelgrimsliedere (Ps 120-134).

Edersheim 2, bl 230, noem dat Joodse kinders van kleins af tuis bekende Bybel-tekste uit die hoof begin leer het: ‘n teks wat sinspeel op die kind se naam, die Sjema as belydenis van geloof (Deut 6: 4-9, 11: 13-21; Num 15: 37-41), die sewe daaglikse psalms, die ses hallel-lofsange en die vyftien pelgrimsliedere. Die tuisonderrig is uitgebrei in ‘n plaaslike skool. Dieselfde psalms en ander psalms en die twee kantieke van Moses is reëlmatig in die tempel gesing en nie allerlei vrye liedere nie. Die eredienste vandag is die voortsetting van die eredienste in die tempel op ‘n ander manier as in die sinagoges. Die gemeente as nuwe priesterdom sing die psalms en kantieke vanuit hulle vervulling deur Jesus Christus.

Calvyn het gesorg dat die kinders in Genève psalms leer sing. In sommige katkisasie-klasse in Suid-Afrika moes die kinders psalmversies van buite leer soos oumense jou kan vertel. Hoe jammer dat dit verdwyn het. Die herinstelling daarvan kan met ‘n beroep op Deut 6: 6, Ps 8: 3 en Matt 21: 15 ‘n reformatoriese daad wees en psalmsang in die erediens bevorder.

Saam kan die trits op ‘n omvattende eenheid wys, die groot verskeidenheid van Bybelse liedere. Dit blyk uit die ondersoek van die drie woorde.