AFD 1. INLEIDING
Agtergrond. Vandag word beweer dat man en vrou gelyk is. Vroue kan alle beroepe en kerklike ampte beklee en mans kan huisvroue word (of is dit huismans?). Maar die pendulum is besig om terug te swaai na die “sterk man”. Mense is meer geneig om selfgenoegsame leiers te kies soos Rodrigo Duterte, Vladimir Putin en Donald Trump, en “Mighty Men” konferensies by te woon of aan te sluit by die “#tradwife”-beweging met leuses soos: “Trying to be a man is a waste of a woman.”
Doel. Om vandag in die wêreld en in die kerk met al die verwronge rolle vir man en vrou te kan koers hou, lê die keuse nie tussen links en regs nie, maar moet ons die Skrif ondersoek oor die verbonds-opdragte aan man en vrou. Het altwee dieselfde en/of verskillende take? Kan mans en vroue alle kerklike ampte beklee? Die ondersoek is beperk tot die opdragte –
Afd 2: aan man en vrou in Gen 1-3
Afd 3: aan mans om manlik en sterk te wees in 1 Kor 16:13-14
Afd 4: aan vroue om moeder te wees in 1 Tim 2:15
Afd 5: aan mans as oudstes/ouderlinge
Afd 6: aan mans as diakens
In afdelings 7 tot 10 is ‘n paar van die Bybelgegewens ondersoek wat al gebruik is as bewys dat man en vrou gelyk is en vroue ook predikante, ouderlinge en diakens kan word.
Afd 7: Debora as profetes en rigter in Rigt 4:4
Afd 8: mans en vroue wat profeteer in 1 Kor 11:4-5
Afd 9: mans en vroue as profete, priesters en konings in Sondag 12
Afd 10: “daar is nie meer man en vrou nie” in Gal 3:28
Elke afdeling eindig met ‘n samevatting en die kern en konklusie volg in afdeling 11.
Werkwyse. Die uitgangspunt is dat die Bybel die Woord van God is en die verhouding tussen God en mens ‘n verbondsverhouding. Die verbondsopdrag aan almal is om die Here met jou hele bestaan lief te hê en jou naaste soos jouself. 1Luk 10:27 Vir die ondersoek was veral die vergelyking van Skrif met Skrif belangrik soos blyk uit die talle voetnote met teks- en bronverwysings. Die voetnote kan gelees word deur die wyser oor die nommer te beweeg. 2wyser = ‘cursor’. Dubbel-klik direk voor die nommer om heen en weer te beweeg tussen die lys van voetnote en die studie. Vir die toepassing is hoofsaaklik die herhaalde vernuwings van die verbond van belang. 3NGB, art 25
Groot dank is verskuldig aan Ria, my vrou en hulpvaardige kritikus en aan (alfabeties): Ds Gustav Opperman, Henk Schuring, Ybie Schuring, Huib ‘t Hart en Piet van Wyk de Vries. Hulle het gewys op tikfoute, al die teksverwysings gekontroleer, literatuur en Bybeltekste genoem en indringende kommentaar gelewer. Hulle waardevolle hulp neem my verantwoordelikheid vir enige tekortkoming natuurlik nie weg nie.
Voetnote