PSALMS, LOFSANGE EN GEESTELIKE LIEDERE

Is die drie woorde sinonieme?
McNaugher het die trits ondersoek en meen dat die drie woorde sinonieme is en na net die 150 Psalms verwys. Hulle is inderdaad sinonieme. Maar sinonieme beteken nooit presies dieselfde nie. Sinonieme is verskillende woorde met gemeenskaplike en verskillende betekenis-aspekte (of betekenis-onderskeidings). Die betekenis-aspekte is kenmerke van die sake waarna die woorde verwys. Die aspekte wat bespreek word met hier en daar ‘n toepassing op huidige kerksang is: (1) sang, (2) musiek, (3) woorde, (4) verskillende psalms, (5) geheel-versamelings, (6) kantieke en apokriewe liedere en (7) samevatting.

1. Sang
Die drie soorte liedere is gesing. Hulle is sange. Die naamwoorde en hulle verwante werkwoorde het dieselfde wortel in Hebreeus en in Grieks. Letterlik vertaal in Afrikaans:

psalm en psalmsing (Ps 9:1 en 3 in Hebr  en Gr); lied en liedsing (Ps 137: 3 en 4 in Hebr en Gr);
lof en loof (1 Kron 16: 35 en 36 in Hebr); lofsang en lofsing (Ps 65: 2 en 14 in Gr).

Jesus en sy dissipels het die lofsang gesing (Matt 26:30). Dit is al ses hallel-psalms, elkeen met die opskrif: Halleluja, ‘Loof die HERE!’ in Grieks (Ps 112-117 in Gr, 113-118 in Afr).

‘n Moontlike oorblyfsel van die sing van die hallel by die paasfees is die sing van Ps 116 by die nagmaal. Dit kan uitgebrei of afgewissel word met ander hallel-psalms. Dan sing ons nie halleluja-liedere nie, maar dieselfde halleluja-psalms as Jesus en sy dissipels wat Hy, die Lam van God, vervul het. Schilder (1949, bl 342) vat die belang hiervan saam in een sin: “[O]ns ‘het die profetiese woord’ en ons het altyd die nu-testamentiese lied, want ons Psalmis het die Hallel uit die Ou Testament al singende in die Nuwe Testament ingedra.”

2. Musiek
Psalms, lofsange en liedere is in nu-testamentiese tye in die tempel begelei met snaar-instrumente en fluite. Die Leviete het nege of meer siters/liere en twee tot ses harpe gebruik en ook nog twee tot twaalf fluite by sommige feeste (Edersheim 1, bl 78-80). Die pelgrims-liedere op pad na Jerusalem is met fluite begelei (Jes 30:29) en die Hallel is melodies by die huise gesing (Mark 14:14, 15, 26).

Dawid as jong herder met ‘n fluit en geklee in middeleeuse drag. Afgelaai in 2023 van Pinterest, Pamela Bottrill. Detail van: themorgan.org/collection/crusader-bible/50 MS M.638, fol. 25v.

Musiek is ‘n uitstaande betekenis-aspek van psalmos: Liddell se woordeboek verklaar psalmos as: “Die tokkel en pluk met die vingers van ‘n boog en meestal van musikale snare;die klank van ‘n harp, later: ‘n lied gesing by ‘n harp; ‘n psalm”. Psalmos word gebruik as vertaling van Hebreeus mizmoor wat moontlik ook ‘n tegniese musiekterm is met die betekenis ‘melodie’ (BDB). Soms is psalmos ‘n vertaling van Hebr. vir ‘snarespel’(1), ‘harp’(2), ‘fluit’(3) en ‘n onbekende musiek-term(4).

(1) Klaagl 5:14, vgl 3:14 en 1 Sam 16:18    (2) Ps 71:22

(3) Job 21:12, 30:31    (4) sjiggajoon, Ps 7:1

By lofsange gaan dit meer oor loof en prys en nie so prominent oor musiek as by psalms nie. Liddell meen dit beteken: ‘himne, feestelike lied of ode om gode of helde te prys.’ Die musiek-aspek is wel daar, want dit is ‘n lof-sang. Ook is dit in ses psalmopskrifte ‘n vertaling van Hebreeus vir snarespel (Ps 6, 54, 55, 61, 67 en 76).

Wat liedere betref is dit natuurlik ook woorde wat gesing is. Vergelyk die uitdrukking musiek-instrumente,(5) letterlik: ‘instrumente van lied’. Soms is ‘lied’ ’n weergawe van Hebreeus vir ‘snarespel’(6) en vir onbekende musiekterme(7).

(5) 1 Kron 15:16, 16:42; 2 Kron 5:13, 7:6, 23:13, 34:12    (6) Ps 4:1; Hab 3:19    (7) Ps 9:17, 91:4; Hab 3:1

3. Woorde
Die drie soorte liedere het almal woorde, maar daar is verskille.

Psalmwoorde: Baie psalms se woorde was destyds goed bekend. In Korinthe “het” sommiges ’n psalm (1 Kor 14: 26), blykbaar die gawe om op ‘n gepaste moment in die erediens ‘n psalm op die regte melodie uit die hoof in te sit. Die psalms was so bekend dat die Nuwe Testament hulle minstens 80 keer aanhaal en nog 333 keer daarna verwys.

Baie van die 413 teks-verwysings(8) na die Nuwe Testament kan in die kantlyne by die berymde psalms gedruk word tot verryking van die gebruikers van die Psalmboek.

(8) Volgens UBS3.  Daar is meer as 413, bv 1 Kor 10:4 by rots in die berymde Ps 78: 7; 105: 22 en 114: 8.

Lofwoorde. Die woorde lof, loof en halleluja is ‘n kenmerk van die psalms met Halleluja as opskrif in die Septuagint.

Hierdie liedwoorde. Dit is opmerklik dat anders as by psalms en lofsange, by lied etlike kere sprake is van ‘hierdie lied’ of ‘die woorde van hierdie lied’.(9) Liddell beskryf Grieks vir ‘lied’ as “liriese gedigte, liedere en sang”. Hy noem gedigte eerste. Gedigte is woorde wat nog sonder musiek is. By lied is die aspek ‘woorde’ meer op die voorgrond as by psalms.

(9) Eks 15:1, Num 21:17, Deut 31:19, 19, 21, 22, 30, 32:44, Jes 26:1; 2 Sam 22:1//Ps 18:1.

Die aandag gee aan die woorde herinner aan Eseg 33:32. Vir sy luisteraars is Esegiël soos ‘n minnelied met ‘n lieflike stem en pragtige musiek. Hulle hoor sy woorde, maar nie regtig nie, want hulle doen dit nie, raak net in vervoering oor die uitsonderlike man se voordrag. Paulus sê: ‘Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing’

(1Kor 14:15). Calvyn gee as toepassing: “Ons moet deeglik daarteen waak dat die ore meer aandag gee aan die mooi melodie as wat die harte aandag gee aan die geestelike betekenis van die woorde.” (Institusie, III, xx, 32).