Die verbond en die indeling van Eksodus

2.  DIE AARD, STRUKTUUR EN FASES VAN ‘N VERBOND

Die kerngedeelte van Eksodus is Eks 19-24 met die verbondsboek (Eks 24:7). Die hoofstukke daarvoor en daarna hou egter ook verband met die verbond. Om dit duidelik te maak is dit nodig om eers die aard, die struktuur en die fases van ‘n verbond in meer besonderhede te bespreek.

2.1  Die aard van ‘n verbond

Fig 1. Egiptiese groot-koning met regalia: herderstaf, gesel, koninklike hoofdoek, aasvoël van Bo-Egipte, kobra van Benede-Egipte en gesig en hande van goud wat blink soos die son. Skets gebaseer op plaat 26 in Gilbert: Treasures of Tutankhamun

‘n Verbond in die Bybel is ‘n dinamiese en regsgeldige ooreenkoms gebaseer op wedersydse vertroue en liefde. Die verbond tussen Jakob en Laban in Gen 31 is ‘n voorbeeld van pariteitsverbond, ‘n verbond tussen twee gelyke partye. Die verbond tussen God, die Groot-koning, en Abraham, die herder-koning, in Gen 17 is ‘n voorbeeld van ‘n vasalverbond, ‘n verbond tussen twee ongelyke partye.  ‘n Groot-koning is ‘n koning van konings, ‘n heer van here. Hy voer heerskappy oor die leiers van sy eie volk én van ander volke, soos die konings van naburige stadstate en hoofde van volkstamme. Die ondergeskikte konings en stamhoofde is sy vasalle.

Die verhouding tussen ‘n groot-koning en ‘n vasal is in die Ou Nabye Ooste gereël deur ‘n verbond te sluit. So ‘n verbond is  reëlmatig herbevestig, met nuwe bepalings uitgebrei of in ‘n nuwe of ryker verbond voortgesit. Die boek Genesis vertel ons van die verbond van God met Adam en hoe dit voortgesit en hernu is na die sondeval. Daarna is dit hernu en uitgebrei in die verbond met Noag en in die verbond met Abraham, Isak en Jakob.

Die boek Eksodus verkondig hoe die ou verbond weer hernu en voortgesit is in ‘n ryker verbond met die nageslag van Jakob, die volk Israel. Die Nuwe Testament toon aan dat die ou verbond met Israel nog meer verryk is in die nuwe verbond met die kerk, die volk van Jesus Christus. Elke gemeente wat die Gesalfde Jesus as sy Groot-koning aanvaar en lojaal is aan Hom blykens die gemeente se belydenisgeskrifte en dade, is ‘n vasal-staat van die Koning van alle lande en alle eeue.

2.2  Die struktuur van verbondsdokumente

Die samestelling van ‘n verbondsdokument verskil in meerdere of mindere mate van verbondsdokument tot verbondsdokument. Die afdelings in die dokument is nie altyd dieselfde nie en die volgorde daarvan kan ook verskil. Tog is daar merkwaardige ooreenkomste tussen die verbondsdokumente in die Bybel soos teoloë al eeue gelede in hulle publikasies aangetoon het1 van der Waal 1990, 28. In die 20e eeu het argeoloë, juriste en teoloë ontdek dat daar ook baie ooreenkomste met buite-bybelse verbondsdokumente uit die Ou Nabye Ooste is. Koroček – ‘n juris – het in sy boek van 1931 aangetoon hoe die Hetitiese staatsverdrae saamgestel of gestruktureer is. Talle ander skrywers2 Byvoorbeeld Kline: 14-19; McCarthy: 1-2, 37, 56-57, 67; van der Waal 1990: 31-34; Vannoy: 133, n 5, 139; van Rongen: 65 het die navorsing oor verbondsdokumente verder gevoer. Aan die hand van hulle werk kan die struktuur van ‘n tipiese verbondsdokument soos volg saamgevat word:

(1) Inleiding: voorwoord (preambule): die titel en/of die agtergrond van die verbond.
(2) Titulatuur: voorwoord (preambule): die partye se name, titels en bevoegdhede.
(3) Geskiedenis: die geskiedkundige voorwoord of historiese proloog.
(4) Grondslag: die basiese verhouding tussen die twee partye. 3Vannoy (1978, bl 133, voetnoot 5) skryf: die “statement of substance [Grundsatzerkläring] … is of such importance that it deserves a place in any schematization of the treaty form”.
(5) Bepalings: die verpligtinge van een of altwee partye.
(6) Dokument: die verwysings na die dokument. Dit het nie ‘n vaste plek in die struktuur nie.
(7) Getuies: die goddelike en/of ander getuies van die verbondsluiting en die verbondseed.
(8) Sanksies: die vloek en seën wat volg op nie-nakoming en nakoming van die verbond.

Die lys en die woord verbondsdokument kan die indruk skep dat ‘n verbond altyd uit net een dokument bestaan, onveranderbaar is en net op een dag opgeteken en gesluit is. ‘n Verbond is egter baie dinamies. Dit is onder meer ‘n skriftelike vaslegging van ‘n verbondsproses wat oor tyd verloop het. Die bepalings van ‘n verbond kan ook oor tyd verander, terwyl die kern of grondslag van die verbond dieselfde bly. Dikwels is daar in verbondsdokumente aanduidings van hierdie proses.

Hierbo is reeds aangetoon dat die verbond met die aartsvaders opgedateer en verryk is in die nuwe verbond met hulle nageslag. Ook in Oud-Oosterse verbonde is daar soms sprake van die opdatering van bestaande verbonde. McCarthy, 71-73, verwys byvoorbeeld na die Hetitiese Ulmi-Teshub-verbond waarin twee ouer verbonde aangehaal en nuwe bepalings bygevoeg is. Die beroemde verbond tussen Ramses II en Hattusili III (artikel: ‘n Oud-Oosterse pariteitsverbond) word in paragraaf 8 beskryf as ‘n verbond wat beter, dus ryker, meer omvattend is as ‘n vorige verbond:

Kyk, ons is verenig en ‘n verbond van broederskap bestaan reeds tussen ons en van vrede, en dit is beter as die verbond van broederskap en van vrede wat bestaan het tussen die gebied van Egipte en die gebied van Hatti.

‘n Ander voorbeeld van die dinamiek van verbonde is dat ‘n verbond nie op een dag nie, maar oor tyd tot stand kan kom en oor ‘n reeks samehangende dokumente versprei kan wees. In die boek Eksodus verskyn die grondslag al in hoofstuk 6:6 as deel van die aanbieding van die verbond. Ongeveer 7 weke later volg die her-afkondiging van die grondslag van die verbond by die Horeb-gebergte in Eks 19:5-6 en na nog drie dae die afkondiging van die Tien gebooie, die Tien woorde of Dekaloog in Eks 20. Gedurende die volgende 40 dae ontvang Moses die bepalings vir die bou van die tabernakel, hoofstukke 25-31.

Die verbondsboek Deuteronomium bestaan uit verskillende toesprake van Moses. Elke toespraak begin met sy eie inleiding en is ‘n aparte dokument. Die verbond met Abraham is verdeel oor Gen 12, 15, 17 en 22 wat in terme van tyd dekades van mekaar geskei is. Die verbondsluiting met Noag begin met die aankondiging van die verbond in Gen 6:18 voor die vloed, maar die verbondsluiting is eers meer as ‘n jaar later na die vloed in Gen 9.

Ook in Oud-Oosterse verbonde kan ‘n verbond oor verskillende dokumente verdeel wees. Volgens Wiseman4The Vassal treaties of Esarhaddon, 27, via van Rongen, 110 is die details van allerlei verpligte religieuse bepalings van ‘n verbond soms vasgelê op ‘n aparte tablet. Die ‘hoofooreenkoms’ en die aparte tablet het ongeveer dieselfde naam of inleiding. Van Rongen meen dat die afkondiging van die grondslag van die verbond in Eks 19 die aparte ‘hoofooreenkoms’ is wat verder uitgewerk is in die Tien woorde van Eks 20.

2.3  Die fases van die verbondsproses

Uit bostaande is duidelik dat by die bestudering van verbonde rekening gehou moet word met ‘n verbondsproses wat oor tyd verloop en uit verskeie fases kan bestaan. By baie verbonde is dit moontlik om die hele verbondsproses in minstens drie fases te verdeel: ‘n voorbereidende, ‘n bevestigende en ‘n uitvoerende fase.

Die voorbereidende verbondsfase.  Dit sluit die prosesse in wat by die inleiding, die titulatuur en die historiese proloog van belang is. Byvoorbeeld die onderhandelinge oor of die aanbieding van die grondslag van die verbond wat opgerig gaan word, die oproep (roeping) en koms na die verbondsvergadering en ander voorbereidings vir die ontmoeting met die groot-koning. Daarna volg die verskyning van die groot-koning en die afkondiging van sy titulatuur wat ‘n geslagregister kan insluit. Die herinnering aan die magtige dade van die groot-koning in die historiese proloog en in prysliedere is nog ‘n groot onderdeel van die voorbereidende fase.

Die bevestigende verbondsfase.  Hier gaan dit om al die prosesse en seremonies wat verbind kan word met die dokument, die getuies en die sanksies (vloeke en seëninge). Voorbeelde hiervan is die opskryf, die oorhandiging en die deponering van die verbondsdokument in ‘n argief by die koning of in ‘n tempel; die oprig van tekens of gedenkstene waarop soms die hoofbepalings van die verbond geskryf is; die aanroep of aanwys van getuies; die aflê van ‘n eed of verklaring; offerandes en maaltye; en die uitspreek van voorwaardelike vloeke en seëninge wat dikwels gepaard gaan met een of ander seremonie.

Die uitvoerende verbondsfase.  Dit word hoofsaaklik in die grondslag, die bepalings en die sanksies beskryf. In hierdie fase gaan dit oor die nakoming of nie-nakoming van die verbond en die implikasies daarvan. Verbondsverkeer sluit in die jaarlikse betaling van tribuut, die skatting of belasting wat die vasal na die groot-koning se paleis moet bring. Verder die heen en weer stuur van boodskappers met mondelinge en skriftelike versoeke vir hulp of met waarskuwings en oproepe om getrou te bly aan die verbond. Ongehoorsaamheid aan die verbond kan lei tot regsake, oorlog, verwoesting van stad en land en ballingskap. Gehoorsaamheid daarenteen word beloon met beskerming teen vyande en met die versekering dat die vasal se nageslag as troonopvolger erken sal word.

In hierdie fase kan die bestaande verbond ook aangepas word met nuwe of wyer bepalings sonder dat die hele verbondsproses herhaal word. Die grondslag bly dieselfde, maar die uitwerking en toepassing kan verander. Die groot-koning het wetgewende, uitvoerende en juridiese magte wat die gee van verdere opdragte aan sy vasalle insluit. Die vasal beskik oor dieselfde soort magte maar net in sy eie gebied. Sy regering moet steeds in harmonie met en ter ondersteuning van die belange van die groot-koning wees soos uitgespel in die verbond tot en met die laaste opdatering en byvoegings.

Die vernuwing of herbevestiging van ‘n verbond kom veral voor wanneer daar sprake is van ‘n nuwe troonopvolger. Die verbond tussen groot-koning Mursilis II en vasal-koning Duppi-Tessub is ‘n voorbeeld van so ‘n suksessie-verbond (sien die artikel: ‘n Oud-Oosterse vasalverbond). Duppi-Tessub se vader het gesterf en die groot-koning sluit nou met hom ‘n nuwe verbond as voortsetting van die verbond met sy vader en sy vader se vader. Die afskeidstoesprake van Moses,5Deut 32 Josua,6Jos 23 en 24 Samuel,71 Sam 12 Dawid,82 Sam 23; 1 Kon 2; 1 Kron 28-29 Jesus Christus 9Luk 24:44 ev en Paulus10Hand 20:17 ev; van der Waal 1990: bl 55 kan beskou word as die afsluiting van die derde verbondsfase en die begin van ‘n nuwe bedeling. Elkeen van hulle het hulle ampstake volledig of gedeeltelik oorgedra aan hulle opvolger(s).

Voetnote

Voetnote
1 van der Waal 1990, 28
2 Byvoorbeeld Kline: 14-19; McCarthy: 1-2, 37, 56-57, 67; van der Waal 1990: 31-34; Vannoy: 133, n 5, 139; van Rongen: 65
3 Vannoy (1978, bl 133, voetnoot 5) skryf: die “statement of substance [Grundsatzerkläring] … is of such importance that it deserves a place in any schematization of the treaty form”.
4 The Vassal treaties of Esarhaddon, 27, via van Rongen, 110
5 Deut 32
6 Jos 23 en 24
7 1 Sam 12
8 2 Sam 23; 1 Kon 2; 1 Kron 28-29
9 Luk 24:44 ev
10 Hand 20:17 ev; van der Waal 1990: bl 55