PSALMS, LOFSANGE EN GEESTELIKE LIEDERE

4. Verskillende psalms
Die drie woorde benoem verskillende psalms, behalwe in dertien opskrifte met sowel psalm as lied. Die opskrifte is sonder voegwoorde en sonder sinsverband, vergelyk Afr 20:

Ps 65:1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. ‘n Lied.

Ps 88:1 ‘n Lied. ‘n Psalm. Van die Koragiete. Vir die musiekleier.

En ook so in Ps 30, 48, 66, 67, 68, 75, 76, 83, 87, 92 en 108.

Dit is los terme wat in enige volgorde aangebied kan word. Lied en psalm in een opskrif is instruksies aan die musiekleier en aan hulle wat die lied sing om aandag te gee aan die woorde (lied) en aan die musiek (psalm). Hierdie kombinasie en 59 keer vir die musiekleier leer ons dat goeie en meer gemeentesang nie uit die lug val nie. Dit vereis beplanning, oefening en samewerking van die predikant, orrelis/voorsanger, kerkraad en gemeente.

65 Psalms. Behalwe vir die dertien psalms met ‘psalm’ en ‘lied’ in die opskrif verskyn Grieks  psalmos in nog 52 ander psalmopskrifte.

20 Lofsange. Grieks humnos met die betekenis ‘lofsang’ (vergelyk Afr. himne en Engels hymn)  kom nie in psalmopskrifte voor nie, maar wel in die teks van sommige psalms en in die res van die Ou-Testament as vertaling van tehillo ‘lof, lofsang’ of van halleel ‘om lof te sing’(10). Tehillo ‘lofsang’, halleel ‘om lof te sing’ en halelu(ja) ‘loof-julle (Jahweh)!’ is nou verwante woorde met dieselfde h-l-l-wortel. Die lofsange in die Septuagint is minstens die twintig psalms met Halleluja as opskrif,(11) ingesluit die ses Hallel-psalms (Ps 113-118).

(10) tehillo in Neh 12:46, Ps 40:4, 65:2, 100:4, 119:171 en halleel in 2 Kron 7:6    (11) Ps 105-107, 111-119, 135, 136, 146-150. Die opskrifte in Grieks verskil soms van die opskrifte in Hebreeus en Afrikaans.

33 Liedere. Die bekendste psalms met ‘lied’ in die opskrif is die vyftien pelgrims-liedere in Ps 120 tot 134. Dit is ‘n afsonderlike bundel wat op die feestelike reise na Jerusalem gesing is en ook deur die Leviete tydens die loofhuttefees op die vyftien trappe na die voorhof van Israel in die tempel-kompleks (Edersheim 1, bl 50). In die res van die psalmboek staan oody ‘lied’ in vyf opskrifte (Ps 18, 45, 91, 93, 95) en nog dertien keer saam met psalmos.

5. Geheel-versamelings
Luk 20:42 en Hand 1:20 verwys na ‘boek van psalms’. Die 65 psalms met die opskrif ‘psalm’ is ‘n pars pro toto vir al 150 psalms:  ‘n ’deel/part staan vir die geheel/totaal’. Nog ‘n pars pro toto is die Hebreeuse titel vir die psalmboek in na-bybelse tye: Tehillim, ‘Lofsange’, meervoud van tehillô ‘lofsang’, terwyl net 50 psalms h-l-l woorde het.

Snit van Ps 68 met dieselfde pouse in die Neder-landse Psalmboek van 1840 wat ook in Suid-Afrika gebruik is. Die woorde in die regter-kantlyn is die teks in die Statebybel. Dit en die herhaalde note-balke vra vir aandag aan Woord en musiek.

In die trits wet, profete en psalms (Luk 24: 44) is psalms ‘n pars pro toto vir die derde groep Bybelboeke in die Hebreeuse Ou Testament met Psalms eerste in die reeks(12).

(12) In BHS4 is die reeks: Ps, Job, Spr, Rut, Hoogl, Pred, Klaagl, Ester, Dan, Esra, Neh, 1 Kron en 2 Kron

Die psalmboek is ‘n eenheid. So gesien is daar ruimte vir verbetering van ons kerksang. In Genève en Lausanne is volgens ‘n rooster al 150 psalms in ‘n halwe jaar met ‘vitesse’, met spoed en lewendig deurgesing. Daar is vyf keer per erediens gesing en nie net een of twee strofes per keer nie. Die korter psalms is in hulle geheel gesing en die langer psalms in gedeeltes wat afgebaken is met sterretjies vir ‘n kort pouse (van der Waal 1, bl 17).

Titelblad en ‘n deel van Ps 68 in Genève se Franse psalmboek van 1562 met ‘n pouse. Bron: Bibliothèque de Geneve: https://doi.org/10.3931/e-rara-2674. Afgelaai in 2023.

6. Kantieke en apokriewe liedere
Kantieke is al die ander liedere in die Bybel as die psalms. Kantieke met die term lied is die liedere van Moses, Debora, Dawid en Jesaja.(13). Salomo het 1005 liedere gedig (1 Kon 4:32). Net twee psalms word met Salomo verbind (Ps 72 en 127). Die duisend liedere het nie stand gehou soos die geïnspireerde psalms, lofsange en liedere van sy vader Dawid nie. Anders as Dawid het die wyse Salomo onwys die koningswet verwerp en sy baie vroue se afgode vereer.(14)

(13) Eks 15:1, Deut 31:19, 19, 21, 22, 30, 32:44, Rigt 5:12, 2 Sam 22:1, Jes 42:10.

(14) Vergelyk Deut 17:14-20 met 1 Kon 10:14-11:13 en Neh 13:26.

Die verdwyning van Salomo se liedere is gebruik as regverdiging vir die inhoud van twee buite-Bybelse boeke. Die Psalms van Salomo wat blykbaar dateer uit die eerste of tweede eeu voor Christus en Liedere van Salomo uit die eerste of tweede eeu na Christus.(15) ‘n Derde boek in die Septuagint met die titel Oodai ‘Liedere’ is ‘n versameling van kantieke en ‘n paar apokriewe liedere soos die Gebed van die drie manne in die vuur (art 6 NGB). Laasgenoemde lied kom moontlik uit die eerste of tweede eeu voor Christus.

(15) Sien Wikipedia Psalms of Solomon en Odes of Solomon vir ‘n bespreking en literatuur.

In Paulus se dae was daar al apokriewe psalms en liedere. Al vroeg is oody, ‘lied’ gebruik om vrye liedere in die erediens in te voer. Dieselfde blyk uit die titels van onlangse publikasies: Liedboek voor de kerken (1973), Liedboek van die kerk (2001) en Liedboek. Zingen en bidden in huis en kerk (2013), elkeen met die 150 psalms en honderde liedere.