3. DIE INDELING VAN DIE BOEK EKSODUS
Baie verklaarders is dit eens dat die verbond die sentrale tema van die boek Eksodus is. Du Plessis sê byvoorbeeld in BVA, die Bybel met Verklarende Aantekeninge, dat die boodskap van die boek ‘die verbondstrou van God’ is. Soos ander kommentatore verdeel Gispen in die Korte Verklaring op Eksodus die boek in twee gedeeltes: 1:1-15:21 oor die uittog uit Egipte en 15:22-40:38 oor die verbondsluiting met die volk Israel. Die verband tussen die twee dele is volgens Gispen, bl 6, dat die uittog ‘n noodsaaklike voorwaarde vir die verbondsluiting is. Dit is inderdaad die geval.
‘n Probleem wat hierdie tweedeling egter nie aanspreek nie, is dat die tweede gedeelte blykbaar nie ‘n volwaardige inleiding, titulatuur en historiese proloog bevat nie. Sulke afdelings kom nie voor in die verbondsboek, Eks 19-24, nie en ook nie in die volgende hoofstukke nie, terwyl dit tog tipiese onderdele van ‘n verbondsdokument is. Van Rongen, 81, 84, en andere wys op Eks 20:2a: Ek is die HERE jou God, as die titulatuur, en op vers 2b: wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het, as die historiese proloog. So ‘n kort historiese proloog staan ook in Eks 19:4: Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het (plae en ondergang in die Skelfsee) en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het (deur die woestyn).
In vergelyking met die lang historiese proloog in Deut 1:6-4:43 en in Neh 9:1-37 is hierdie enkele frase of sin net ‘n samevatting. Dit is ‘n samevatting van die eerste gedeelte van die boek Exodus. Met ander woorde die inleidende gedeeltes van die verbond – die inleiding, titulatuur en historiese proloog – staan moontlik in die sogenoemde eerste deel van Exodus wat dan die voorbereidende fase beskryf:
Skrywers is dit oor die algemeen eens dat hoofstukke 1 en 2 die inleiding van die boek is. Daar kan ondersoek word of dit moontlik die inleiding van die verbond beskryf.
In die roeping van Moses in hoofstukke 3 en 4 noem God sy Naam en titels en openbaar Hy die betekenis van sy Naam. Die vraag is of hierdie gedeelte en hoofstukke 5 en 6 met onder meer die geslagregister van Moses en Aäron in 6:13-26, nie miskien die titulatuur-gedeelte van die verbond is nie.
Die historiese proloog bestaan dan uit die gedeelte wat volg in hoofstukke 7 tot 18 met die wonders en tekens van die HERE. Dit kan in twee dele verdeel word. Eerstens die wonders en tekens wat God gedoen het om Israel onder Farao se mag uit te haal tot by die loflied na Farao se ondergang in die see. Die tweede deel is die verlossende wonders en tekens tydens die reis deur die woestyn tot by die berg van God.
Hoofstukke 19-24 met die verbondsboek kan die bevestigende fase van die verbond wees. In hierdie deel vind ons onder meer die herhaalde verklaring of eed van Israel dat hulle alles sal doen wat die HERE gespreek het en die seremonies in hoofstuk 24. Hierby kan ook hoofstukke 25 tot 31 ingesluit word. Hulle handel oor die oorhandiging van die skriftelike bewys van die verbond, die twee kliptafels waarop God met sy eie vinger die verbond geskryf het en oor die tabernakel, die tempel, waarin hierdie bevestigende dokument gedeponeer moet word en waarin God te midde van sy volk sal woon.
Die uitvoerende fase is dan hoofstukke 32 tot 40 oor Israel se verbreking van die verbond, die verbondstraf wat daarop volg, die genadige vernuwing van die verbond, die bou van die tabernakel, die deponering van die nuwe kliptafels in die ark en die intrek van die heerlikheid van die HERE in die tabernakel waarmee die belofte dat God te midde van sy volk sal woon vervul is (Eks 40:34-38; vgl 1 Kon 8:10-11).
Hieruit volg dat die boek Eksodus aan die hand van die struktuur van verbondsdokumente en verbondsprosesse moontlik soos volg ingedeel kan word:
Voorbereiding vir die verbond
(1) 1:1-2:25 Die inleiding van die verbond gerangskik om die hooffigure: Israel, Farao, Moses en God.
(2) 3:1-6:26 Die titulatuur van die HERE waarin Hy sy Naam openbaar aan Moses, Israel en Farao en die titulatuur van Moses en Aäron.
(3) 6:27-18:27 Die historiese proloog oor die HERE se verlossing van Israel deur sy tekens en wonders in Egipte en tydens die reis na die berg van God.
Bevestiging van die verbond
(4) 19:1-24:18 Die her-afkondiging van die grondslag en die afkondiging van die bepalings van die verbond asook die uitvoering van die verbondsluiting-seremonies
(5) 25:1-31:18 Die bepalings vir die tabernakel wat gebou moet word vir die realisering van die belofte dat Hy tussen sy volk sal woon en vir die deponering van die twee kliptafels met die hoofbepalings van die verbond.
Uitvoering van die verbond
(6) 32:1-34:35 Die verbreking van die verbond, die verbondstraf en die vernuwing van die verbond.
(7) 35:1-40:38 Die bou van die tabernakel, die deponering van die kliptafels in die ark en die vervulling van die tabernakel met die heerlikheid van God.