7. Samevatting van die betekenis-aspekte
Die drie woorde verwys elkeen na sang, musiek, woorde en psalms, maar hulle kan ook verskillende groepe psalms aandui en het betekenis-aspekte wat uitstaan: musiek by psalms, lof-woorde by lofsange en hierdie woorde by liedere.
Opmerklik is verder dat die meervoud Psalms die Griekse en die meervoud Lofsange die Hebreeuse titel vir die hele psalmboek is, maar nie die meervoud liedere nie. Die betekenis van liedere is wyer. Dit verwys onder meer na psalms, kantieke, die duisend liedere van Salomo en apokriewe liedere. Die byvoeging van ‘Geestelike’ beperk egter die wydheid van die betekenis tot net die liedere van die Gees, die liedere in die Bybel.
Geestelike of geestelike liedere?
‘n Geestelike lied is byvoorbeeld die kantiek van Dawid in 2 Sam 23: 1-7 wat begin met: Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong. Sommiges lees: geestelike liedere in die trits en vind daarin ‘n basis vir die invoering van gesange in die erediens. Oor Geestelik of geestelik, pneumatikoos, skryf Warfield (via McNaugher, bl 132):
[I]n vier-en-twintig gevalle is dit afgelei van pneuma, die Heilige Gees. In die sin van behoort tot, of is bepaal deur die Heilige Gees, is die Nuwe Testament eenstemmig. Die enigste uitsondering in Ef 6:12 verwys blykbaar na die hoër, hoewel gevalle, bo-menslike intelligensies [Afr 53: bose geeste]. Die toepaslike vertaling vir elke geval is “Gees-gegewe”, of “Gees-gelei”, of “Gees-bepaald”.
Van der Waal 2 verklaar ‘die groot stad wat Geestelik Sodom en Egipte genoem word’ in Openb 11: 8 soos volg:
Die woord Geestelik, pneumatikoos, is ‘n uitlegkundige rigtingaanwyser. Hierdie tipologiese uitdrukking het dieselfde funksie as die woord mustèrion in 17: 5. As ‘die groot stad’ met Sodom en Egipte getipeer word, dan is dit so volgens die profetiese idioom, in ooreenstemming met die Gees van die profesie (bv. Deut. 32:32; Jes 1:9; 3:9; Jer 23:14; Eseg 16: 46).
‘n Ander aanduiding dat Geestelik bedoel is, is dat die lesers en hoorders nie met wyn nie, maar met die Gees vervul moet word. Paulus laat hierdie opdrag nie in die lug hang nie, maar sê ook hóé hulle en ons dit moet doen: deur al die soorte liedere in die Bybel te gebruik, want dit is woorde van die Gees (Mark 12:36; Hand 1:16, 4:25; Hebr 3:7).
Kol 3:16 verwoord dieselfde gedagte: Laat die woord van Christus ryklik in julle woon en dan volg weer die hóé: die saam psalms, lofsange en Geestelike liedere sing, want dit is woorde van Christus, die auteur van die Skrif (Joh 1:1, 14; 16:13-15; Openb 1:1).
Geestelik is spesifiek met liedere verbind. Dit sluit nie uit dat psalms en lofsange ook Geestelike liedere is nie. Psalms en lofsange profeteer die koms van die Messias en ‘Geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek’ (2 Petr 1: 21). Christus sê vir sy dissipels in Luk 24: 44 dat die psalms oor Hom getuig: alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms moet vervul word. Die titel van een van d’Assonville se boeke is: Die Psalms sing van Christus. Martin Luther sê dat die Psalms die dood en opstanding van Christus belowe en sy koningskap beskryf (Kandt). Johannes Calvyn gee nog ‘n kern-argument:
Wat Augustinus sê is waar, dat niemand iets kan sing wat vir God waardig is nie, tensy hy dit van God ontvang het. Daarom sal ons, wanneer ons orals rondgespeur het, geen beter liedere vind of ander wat hiervoor meer geskik is nie as die psalms van Dawid wat deur die Heilige Gees geïnspireer is. Slegs wanneer ons hulle sing, is ons seker dat God die woorde in ons mond lê (Calvyn; kursivering GS).
Maria se lofsang herinner aan Hanna se lofsang in 1 Sam 2. Die hele paasfees en die lofsange wat daarby gesing is, wys na die Lam van God. Die lied van Moses en die lied van die Lam in Openb 15 gryp terug na die liedere van Moses in Eks 15 en Deut 32 (van der Waal 2, bl 274). Die psalms, lofsange en liedere in die Ou en Nuwe Testament is deur een en dieselfde Gees gegee.
Levietekoor en nuwe priesterkoor
In die ou bedeling is hele psalms en hele kantieke net deur opgeleide Leviete-kore in die tempel gesing met die oog op die Messias wat kom, waarop die volk dan antwoord met Halleluja!, Hosanna! of Amen! Edersheim 1, bl 224, gee ‘n mooi voorbeeld hiervan. By die paasfees het die Leviete-koor die Hallel-psalms gesing terwyl elke offeraar sy paaslam geslag het en die bloed van elke lam deur die priesters teen die voet van die altaar uitgegooi is. Die priesters het met drie trompet-sinjale aangedui dat die paaslammers nou geslag moet word. Nadat die Leviete die eerste reël gesing het, het die offeraars geantwoord deur die eerste reël te herhaal en na elke ander reël gerespondeer met Hallelu-Ja! soos by Ps 114:
Leviete: Toe Israel uit Egipte getrek het. | Volk: Toe Israel uit Egipte getrek het. |
Leviete: Die huis van Jakob uit ‘n volk met ‘n vreemde taal. | Volk: Hallelu-Ja! |
Leviete: Het Juda sy heiligdom geword, Israel sy ryksgebied. | Volk: Hallelu-Ja! |
In die nuwe bedeling is die gemeente die huis van God en die lidmate die nuwe priesters wat as priesterkoor al die psalms en kantieke mag sing vanuit hulle vervulling deur die offer van die ware Paaslam. Die belofte in Eks 19: 6 en Jes 61: 6 is vervul: die volk het ‘n heilige priesterdom geword (1 Petr 2: 5). Die priester-sinjaal om die lam te slag is nie meer nodig nie. Ons Paaslam ‘is een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem’ (Hebr 9: 28). Ons as priesters het ‘n pragtige, nuwe taak gekry: om nie net Halleluja! te sing nie, maar om al die reëls van al die psalms en kantieke in die Bybel te mag sing.
Konklusie
Psalms, lofsange en Geestelike liedere handel nie net oor die psalms nie, maar oor psalms en kantieke. Die bepaling “Geestelike” by liedere sluit alle apokriewe liedere en liedere wat nie deur die Gees geïnspireer is nie uit. Die kerke en gemeentes wat net psalms wil sing is ryk. Die duidelike streep wat hulle trek, help hulle om nie af te gly na allerlei vrye liedere van mense nie. Maar die opdrag in die trits sluit kantieke in en dit maak ons nog ryker. As priesterkoor mag die gemeente elke reël van elke psalm, lofsang en Geestelike lied sing tot eer van die Skepper daarvan.
Gerard Schuring
Leeupoort, Aug 2023