Die Lied van Moses

  1. VERKLARINGS EN VERTALINGS

In onderstaande aantekeninge by elke afdeling van die lied is eers die berymde strofe en die 1953-Vertaling langs mekaar geplaas om hulle te kan vergelyk.  Daarna is die verband met ‘n regsgeding en die verbond bespreek en laastens aspekte wat vrae opgeroep het, soos sommige vertalings.  Nie alles wat in hierdie afdeling ter sprake kom, is in die beryming nie.

Vir die verklaring en die verband van die lied met die res van die Ou Testament is met behulp van gerekenariseerde Bybelprogramme veral na tekste met dieselfde woorde en temas as in Deut 32 gesoek.  Die Septuagint, LXX, is gebruik om sulke tekste in die Nuwe Testament te vind.  Hebreeuse en Griekse woorde is steeds in die konteks vertaal.
.

Tipiese kenmerke van ‘n verbondsgeding (twisrede of rib-rede) is:  (a) oproep van getuies, (b) ondervraging, (c) Jahweh se weldade, (d) die aangeklaagde se misdade en (e) regsuitspraak (sien bv Jes 1, Jer 2, Miga 6 en Ps 50; Nigosian, bl 27-30, 141-43).

Die struktuur van ‘n verbond is (a) preambule = inleiding en titulatuur, (b) historiese proloog,  (c) die grondslag van die verbond, (d) verbondsbepalings, (e) seën en vloek, en (f) getuies van die verbondseed.1  Al hierdie aspekte van ‘n verbondsgeding en van die verbond kom voor in Moses se afskeidslied wat ook Josua se intreelied is.2
(1) Kline, bl 14-19;  McCarthy, bl 1-2, 37, 56-57, 67;  Vannoy, bl 133, n 5, 139;  van Rongen, bl 65; van der Waal,1990, bl 31 ev  (2) Deut 31:23; 32:44
.

Die lied is ‘n integrale deel van Deuteronomium en nie ‘n byvoegsel uit later tyd soos Nigosian, bl 197, en baie ander beweer nie.  Sou die geleerde Moses wat in ‘n Farao se paleis opgelei is, nie weet van die eed en die getuies aan die einde van ‘n verbond nie?

Inleiding van die Griffier  (Deut 32:1-3)
Ellende:  Uitvoerende getuies opgeroep  (Deut 32:1)
.
1.  Die volk van God is voor die hof gedaag,
want hul het voor ‘n vreemde god gaan buig. 
O hemel hoor en aarde luister skerp
na elke woord wat ek vandag getuig.
Deut 31:28
Deut 31:29
1a  Luister, o hemele, dat ek kan spreek,
1b  en laat die aarde hoor die woorde van my mond.
Die Here sê in Deut 31 dat die volk in die toekoms Hom sal verag en ander gode gaan dien en dan sal baie onheile en node, die verbondsvloek, oor hulle kom.1 Die oudstes van die volk2 moet daarom by Moses vergader3 sodat die Here hulle deur Moses se mond kan waarsku teen die dreigende ondergang en die weg van die lewe kan aanwys.
(1) Deut 31: 17, 20-21, 29.  (2) Deut 31:28; Jes 32:9; Joël 1:2. (3) Deut 31:28; Jes 1:10.
.
Moses het drie keer in sy verbondstoesprake aangekondig dat hy hemel en aarde teen Israel gaan oproep en dat dit groot onheil vir Israel kan bring.1  Hier in Deut 32, aan die einde van sy uiteensetting van die verbond, voer hy dit uit: Luister o hemel!, hoor o aarde! Alle geskape magte en kragte in die hemel en op die aarde word opgeroep. Die hemel en die aarde kan op bevel van die Regter die seën of die vloek van die verbond bring, die dood of die lewe, soos in Lev 26 en Deut 28.
(1) Deut 4:26; 30:17-19; 31:28-29. (2) Gen 1:1; 2:1; vgl Jes 1:2; 34:1; Ps 148.
.
Teen Israel verwys na die verbondsvloek. Getuies tree op vir of teen die aangeklaagde, en dit bly nie net by woorde nie, maar vereis ook dade. Getuies teen iemand moet die eerste klip gooi,1 hulle voer die straf uit.  Die hemel en die aarde moet dus goed luister na die hofsaak en die uitspraak van die Regter. Hulle moet as getuies van die verbond-sluiting hulle ore spits,2 elke woord hoor, sodat hulle gereed kan wees om die Regter se bevel uit te voer.
(1) Deut 17:7; 13:9; Hand 7:58   (2) Jes 28:23; Hand 2:14
.

Die laaste paragrawe van die vasalverbond tussen Mursilis II (± 1300 v Chr), groot-koning van die Hetitiese ryk en Duppi-Tessub, koning van ‘n Amoritiese stam naby die Libanon, illustreer die taak van getuies in buitebybelse verbonde (hoofsaaklik afgode, maar ook berge en riviere, see, hemel en aarde, winde en wolke; sien paragrawe 19-21 in die artikel:  ‘n Oud-Oosterse vasalverbond).

Die Bybel leer dat engele, geeste, afgode, natuur-gode en alles in die hemel en op die aarde nie gode is nie, maar skepsele, magte en kragte wat God geskep het.  Hulle is sy dienaars wat sy bevele moet uitvoer.1 Die volke op die aarde wat Miga as getuies oproep,2 is die roede in Jahweh se hand.3 Die aarde gee wel of nie sy opbrings nie en die hemel wel of nie sy reën nie.4  Die verbondsvolk heers oor die voëls van die hemel en die diere op die aarde,5 maar daardie einste skepsele kan hulle ook verskeur en verslind.6 In die Nuwe Testament is die beheer oor al die kragte en magte in die hemel en op die aarde aan Jesus Christus gegee.7
(1) Ps 104, 148; 1 Kor 8:4-7; Efes 6:12; Kol 1:16; Mat 8:16, 30-31; ens.  (2) 1 Kon 22:28; Miga 1:2  (3) Jes 10:5  (4) Lev 26:4, 19-20; Deut 11:17; Eseg 36:8  (5) Gen 1:26-28; Ps 8:7-9 (6) Deut 28:26; Eseg 39:17-18  (7) Mat 28:18; 1 Petr 3:22
.

Verlossing:  Hofverslag is reën en dou  (Deut 32:2)

2.  My leer, o oudstes, is soos goeie re͡ën,
my woorde is soos wydverspreide dou;
soos winterstorms wat gras vir vee laat groei,
soos somerdou wat blare oop laat vou.
2a  Laat my leer drup soos die reën,
2b  my woord vloei soos die dou,
2c  soos reëndruppels op die grasspruitjies
2d  en soos reënbuie op die plante.
Moses het die taak gekry om as ‘n Griffier die lied op te skryf.1  Aan die begin van sy verslag spel hy die doel van die hofverslag uit: reën en dou, lewe vir die volk.  Bileam,2 Elihu,3 Dawid,4 Jesaja5 en Jesus6 begin op dieselfde manier as Moses:7  die Gees spreek deur hulle en belowe lewe: die lewe en die dood het ek jou voorgehou.  Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.8  Om deur die Gees te profeteer, is om te laat druppel.9
(1)  Deut 31:19, 22, 30  (2) Num 24:2-4  (3) Job 33:1-4  (4) 2 Sam 23:1-2  (5) Jes 61:1-2  (6) Luk 4:18-21  (7) Deut 31: 19; vgl Num 11:17  (8) Deut 30:19; Jer 21:8  (9) נטף; Job 29:22-23; Eseg 20:46; 21:2; Amos 7:16; Miga 2:6
.
Woord (אמרה) en leer (לקח) kom hoofsaaklik in gedigte voor. Hulle verwys na wysheidswoorde wat respektiewelik uitgespreek1(verkondig) en aangeneem2 (geglo) beteken.3
(1) Ps 119:41; Jes 5:24; 28:23  (2) Job 11:4; Spr 1:5; Jes 29:24  (3) vgl 1 Kor 15:1; 1 Thes 2:13
.
Reën en dou bestryk saam die hele jaar, winter en somer, en word ook saam genoem in 2 Sam 1:21, 1 Kon 17:1 en Job 38:28.  In die tweede bede van die ou Joodse agtien-gebed word elke dag van die winter vir reën gebid en in die somer elke dag vir dou. Die somer begin tradisioneel op Paasfees met ‘n gebed vir dou (± 1 April) en eindig op Loofhuttefees met ‘n gebed vir reën (± 30 September). Moses se lied spreek van seën die hele jaar, jaar in jaar uit.1
(1) “Geshem and Tal” in www.rabbinicalassembly.org; “Amidah” in Wikipedia
.
Reëndruppels (שׁעירם) = ‘stortbuie, storms’.  Baie vertalings interpreteer vers 2c as ‘n sagte reëntjie op jong grasspruitjies.  Dié woord is egter in LXX met ομβρος en in die Latynse Vulgaat met imber vertaal “both of which mean heavy ‘rain-storm'” (Nigosian, bl 42). Die betekenis van woorde met dieselfde wortel en ‘n ander spelling van die s-klank is ‘storm, stormwind’.1  Dit is die storms en stortbuie wat veral in die middel van die winter voorkom (omstreeks Desember-Januarie), en deur Elihu beskryf word in Job 37:1-13.  Moses het sy lied in die middel van die winter voorgedra (Deut 1:3).
(1) Vergelyk Jes 28:2 (שׂער), Nah 1:3 (שׂערה), Jona 1:4 (סער) en Job 38:1 (סערה)
.
‘n Winterstorm is ‘n tugroede of weldadigheid,1 bring oordeel of voedsel in oorvloed.2  Na die winterreëns op die dor grond, dor graspolle en dor bossies, ontkiem die grassaad, loop die graspolle uit, kry die bossies blare en begin die vrugtebome blom, heel eerste die amandel3:  Die winter is verby, die reëntyd is oor; daar is bloeisels in die land en die tortelduiwe koer.4  Die gras bly groen totdat die warm woestynwinde omstreeks April daaroor waai.  Groen gras en plante is voedsel vir diere en mense.5  Die opstanding van die dor bene lê in die perspektief.6
(1) Job 37:13  (2) Job 36:31; Eseg 34:26-27; 1 Kon 18:45 met Jak 5:18  (3) Jer 1:11-12  (4) Hoogl 2:11-13  (5) Gen 1:29-30; Ps 104:14; Jer 14:5-6; Jes 45:8  (6) Eseg 37:4-5
.

Reënbuie (רביבים) = ‘(duisende druppels) dou’.  Die wortel van die woord is kenmerkend van woorde wat ‘baie, talryk, tienduisende’ beteken. Na ‘n goeie reënbui is gras en blare nat, by goeie dou is gras en blare opvallend vol druppeltjies, duisende druppeltjies so ver as die oog kyk.  Die beeld van reën en dou in vers 2a-b word in vers 2c-d met ‘soos’ voortgesit. Vers 2d handel dus ook oor dou, soos in Miga 5:6 en in 2 Sam 17:11-12; Ps 110:3; Eks 16:14.

Duvdevani, bl 1-2, het vasgestel dat gras en ander plante dou deur hulle blare opneem wat verwelkte blare laat oopvou en groei van nuwe wortels en nuwe blare bevorder.  In die Negev-woestyn is in die Bisantynse tyd wyn geproduseer deur onder meer om die wynstokke kegel-vormige klipstapels te pak waarop die dou neerslaan en dan afloop na die grond (Fields; Haiman & Fabian, afd 3.1.3).

Dankbaarheid:  Entree van Regter. Eer Hom!  (Deut 32:3)

3.  Die volk se Regter gaan nou binnekom
en luid sê Moses, dienaar van die hof: 
Ek kondig aan die HEER se Naam, sy mag,
vereer die grootheid van ons God met lof!
Ps 9:5; Dan 7:10
Deut 31:30; vgl 31:19
3a  Want die Naam van die HERE roep ek uit:
3b  Gee grootheid aan onse God!
In vers 3 kondig die Griffier aan dat Jahwêh se Naam teenwoordig is.  Al sy mag en majesteit het entree gemaak, het verskyn,1 is in die regsaal.2  Almal in die hof moet ‘ons God,’ (vgl Immanuel) grootheid gee, sy grootheid en majesteit vereer.3  In hierdie sondige en gebroke wêreld gaan geregtigheid geskied!  Daarby pas respek en dank.  Wanneer ‘n regter in ‘n Suid-Afrikaanse hof sy entree maak, klink die bevel:  “All rise!”  En dan staan almal totdat die regter op sy regterstoel gaan sit.  Die gereg het gaan sit [na die entree] en die boeke is geopen.4
(1) Ps 50:2  (2) 2 Kron 19:6-7  (3) Hebr 1:3; 8:1; Jud 1:25 via LXX  (4) Dan 7:10; Openb 20:4, 11-12
 .
EERSTE HOFSAAK:  JAHWEH VS ONGEHOORSAME ISRAEL  (Deut 32:4-27)
Aanklag van die Aanklaer  (Deut 32:4-18)
Titulatuur:  regverdige Regter en dwase volk  (Deut 32:4-6)
. 
4.  Die Rots – volmaak is alles wat Hy doen,
regmatig is die pad wat Hy betree.
Hy is betroubaar, goed, regverdig, wys
en onpartydig as Hy uitspraak gee 
4a  Die Rots – volkome is sy werk;
4b  want al sy weë is strafgerigte;
4c  ‘n God van trou en sonder onreg;
4d  regverdig en reg is Hy.
5.  Maar al die mense hier is vol gebrek,
geen egte seuns is hul, die krom geslag.
Is dit hoe jul die Skepper-Vader eer
deur dwaas, onwys, jul Maker te verag?
5a  Hulle het verderflik teen Hom gehandel –
die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek
5b  ‘n verkeerde en verdraaide geslag.
6a  Durf julle dit die HERE vergelde
6b  o dwase en onwyse volk?
6c  Is Hý nie jou Vader wat jou geskape het nie;
6d  het Hý jou nie gemaak en jou toeberei nie?
Heel eerste word die partye in ‘n verbond en in ‘n verbondsgeding geïdentifiseer (dit gebeur vandag nog in hofsake).  Die Aanklaer noem eers die titulatuur van Jahweh:  die Rots1 van heil en die regverdige Regter (vers 4).2  Daarna volg die titulatuur van Israel: ‘n gebreklike, verkeerde en verdraaide geslag (vers 5).3
(1) Die titel Rots word dikwels in ander liedere gebruik: vgl Deut 32:4, 15, 18, 31 met 2 Sam 22:3, 32, 47 = Ps 18:3, 32, 47; 1 Sam 2:2; 2 Sam 23:3; Ps 19:15; 28:1; 31:3; 62:3, 7, 8; 71:3; 73:26; 78:35; 89:27; 92:16; 94:22; 95:1; 144:1; Jes 17:10; 26:4; 30:29; 44:8; Hab 1:12  (2) Deut 10:17; 2 Kron 19:6-7; Jes 1:26; Sef 3:5; Rom 3:5; 9:14; Openb 15:3; 16:5-7  (3) Jes 1:4; Spr 8:8; Mat 17:17; Hand 2:40
.
Die vergelyking van die titulature loop uit op ‘n ondervraging met die implisiete aanklag dat Israel die verbond met hulle Vader en Skepper verbreek het, want hulle is nie meer ‘n wyse en verstandige volk wat die wet onderhou nie, maar dwaas en onwys soos ander volke (vers 6).1
(1) Deut 4:6-8; Jes 1:3; 63:16; 64:8; Mal 2:10; Joh 8:41; Mat 23:17; Ef 2:10
.

Strafgerigte (משׁפט) beteken ook reg en regspraak, ingesluit vryspraak (Miga 7:9; Ps 103:6).  In al sy weë en regshandelinge tree die Here regmatig op (Ps 145:17).

Vers 5a is moeilik om te vertaal en baie kommentare en vertalings verander die grondteks om sin te maak.  Letterlik staan daar: hy-het-verwoes vir-hom nie sy-seuns hulle-gebrek.  Die eerste vraag is:  Na wie of wat verwys hy?  Die onderwerp staan gewoonlik na die werkwoord en die enigste enkelvoudige naamwoord na die werkwoord in vers 5a is hulle gebrek (skandvlek).

Gebrek (מאום) beteken liggaamlike gebreke (lam, blind, ens), soos van priesters en offer-diere.1  Priesters met ‘n gebrek mag nie offerdiens verrig nie en gebreklike diere as offers is ‘n belediging.2  Figuurlik verwys gebrek ook na sonde.3  Gebreklike, sondige mense pas nie in die paleis en tuin van God nie.  Adam en Eva is na die sondeval uit God se tuin verjaag.
(1) Eks 12:5; Lev 21:18-20; 22:20-24  (2) Mal 1:8; vgl Hebr 9:14; 1 Petr 1:19  (3) Job 11:15; 31:7
.
Verderflik handel teen/verwoes vir (שׁחת ל) = afstootlik vir.  Dinge en mense wat verwoes is, is misvormd1 en vermink2 en daarom afstootlik,3 onaanvaarbaar vir die Groot-Koning,4 soos vuil klere5 en dooies.6  Die Messias is so misvormd deur ons siektes en sondes dat Hy slegs ‘n halwe mens was, geen mens meer nie…nie soos ‘n mensekind nie.7  Slegs seuns aan wie geen enkele liggaams-gebrek was nie en wat gesond, wys en geleerd was, is bekwaam om in die paleis van groot-koning Nebukadnesar te dien.8  Deur die bewoners se boosheid en geweld was die aarde verdorwe vir God (תשׁחת…ל) = afstootlik vir God.9  Jesus genees die lammes en blindes, nou mag hulle weer die tempel betree.10  Deur Christus kan die gemeente sonder vlek of rimpel, sonder gebrek, voor Hom verskyn.11
(1) מִשׁחַת; Jes 52:14  (2) מָשׁחָת; Mal 1:14  (3) vgl Jes 53:2-3  (4) Mal 1:14  (5) Sag 3:3  (6) Lev 21:10-11; Num 6:6-7; Ester 7:8 in BVA; Eseg 43:9; Mat 22:32  (7) Jes 52:14  (8) Dan 1:4, 10  (9) Gen 6:11  (10) Joh 5:14; Hand 3:8  (11) Efes 5:27; 1:4; Filip 2:15; Kol 1:22; Jud 1:24; Openb 14:5; vgl 2 Petr 2:13
.

Teen hierdie agtergrond is duidelik dat hulle-gebrek as onderwerp van die werkwoord Bybelse sin maak:  hulle-gebrek is-afstootlik vir-Hom, (hulle is) nie (meer) sy-(egte)-seuns nie, maar halwe mense, onbekwaam om in die Groot-Koning se paleis te dien en sy volk te wees.

Op grond van die (is) nie (egte) seuns kan profete soos Jesaja en Esegiël en die Nuwe Testament die dreiging van die tweede hofsaak oor die nasies, ook op Israel en ‘n gemeente toepas.  As die verbondsvolk die verbond verbreek, verloor hulle die regstatus as volk van God en word self ‘n vyandige nasie, die nie-volk van Hosea.  Dit beteken verder dat al die profetiese oordele oor die nasies nie net troos vir die verdrukte volk is nie, maar ook waarskuwings vir die eerste hoorders, die verbondsvolk van destyds en van vandag (Rom 15:4).

Weldaad: ewige verkiesing (Deut 32:7-9)

6.  Onthou die dae nou al lank verby,
besin oor jare t’rug se woord en daad.
Jou vader kan jou daarvan meer vertel
en grysaards kan ook met jou daaroor praat.
7a  Dink aan die dae van die ou tyd,
7b  let op die jare, van geslag tot geslag;
7c   vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak;
7d  die ou mense, dat hulle jou dit sê.
7.  Toe God die nasies hulle erfdeel gee,
vir elke volk sy plek en grens bepaal,  
het Hy aan Israel, sy eie volk,
‘n deel gegee waaruit sy liefde straal.
 
8a  Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het,
8b  toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het,
8c  het Hy die grense van die volke vasgestel
8d  volgens die getal van die kinders van Israel.
9a  Want die HERE se deel is sy volk,
9b  Jakob is sy afgemete erfdeel.

Na die titulatuur volg in ‘n verbond die historiese proloog wat die voorafgaande verhouding tussen die partye uitspel.  In ‘n rib-rede en in huidige hofsake word die verhouding ook ondersoek.  Jahweh, die Groot-Koning – sê die Aanklaer – het baie weldade aan sy onderhorige bondgenoot, sy volk van hofdienaars bewys (verse 7-14).  Hy vra die beskuldigde om terug te dink, al die weldade van God te onthou (vgl Ps 44:2; 77:6; 143:5).  Dan kyk hy ook na Israel se optrede in die verlede: hulle het misdade gepleeg (verse 15-18).

Die eerste weldaad is dat die Allerhoogste, Jahweh, hulle verkies het,1 van ewigheid af, van die tyd af toe Hy die grense van die volke vasgestel het.2
(1) Eks 19:5; Deut 7:6; 10:15  (2)  Ps 74:17; Hand 17:26; Neh 9:22
. 
Volgens die getal van die seuns van Israel = volgens die totale aantal Israeliete se behoefte aan woonplek.  Israel se grense is dus eerste getrek, so groot soos nodig was.1 Esegiël sê dat God vir Israel ‘n land uitgesoek het, die mooiste van al die lande.2
(1) vgl Num 23:53-54; 33:54; Eks 3:8, wye land  (2) Eseg 20:6; vgl Ps 47:5
.
Sy volk is Jahweh se deel, so waardevol vir Hom soos ‘n deel van ‘n ryk oorlogsbuit of erfgrond vir mense.1  Jakob is die maatband van sy erfenis, dit wil sê die land is vir Israel se behoeftes uitgemeet, is geskik vir sy bruid en die heilstyd.2  Die volk ontvang ‘n kosbare land, die allersierlikste erfenis van die nasies.3   Die nuwe hemel en nuwe aarde lê in die perspektief.4
(1) Gen 14:22-24; Jes 61:6-7; Ps 16:5-6. (2) Ps 78:55, 71; Jer 10:16; Sag 2:1 ev; Eseg 40:3 ev; Openb 21:15 ev. (3) Jer 3:19; Eseg 20:15; Deut 8:7-10; (4) Efes 1:18; Openb 22:1 ev
.

Weldaad: sorg en leiding  (Deut 32:10-12)

8.  Toe Hy hom vind in woeste wildernis,
‘n land waar wolf en jakkals huil tot laat,
toe het Hy hom met troue sorg omring,
as appel van sy oog beskerm teen kwaad.
10a  Hy het hom gevind in ‘n woeste land
10b en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis;
10c  Hy het hom omring, op hom ag gegee,
10d  hom bewaak soos sy oogappel.
9.  Net soos ‘n arend oor sy kleintjies sweef, 
hul op sy vleuels vang en boontoe dra,
so het alleen die HERE hom gelei; 
geen vreemde god was by, geen hulp gevra.
11a  Soos ‘n arend sy nes opwek.
11b  oor sy kleintjies sweef,
11c  sy vlerke uitsprei, hulle opneem,
11d  hulle dra op sy vlerke –
12a  die HERE alleen het hom gelei,
12b  en daar was geen vreemde god by hom nie.

Die tweede reeks weldade is dat Jahweh Israel in die woestyn versorg1 en op arendsvlerke gedra het2 en dat Hy alleen hulle gelei het.3  Hy het nie soos Israel gaan hulp vra by vreemde, buitelandse afgode nie.  Vers 12b verwys implisiet na die eerste gebod (Eks 20:3).  Die kombinasie van God met afgode is die sinkretisme van die ongehoorsame verbondsvolk.4  Calvyn skryf by Deut 32:12:

Moses … declares that God, as having no need of external aid, had not associated with Himself any strange gods in His preservation of the people.  Hence it follows, that whatever gods the people introduced, they transferred to them the honor due to the one true God.  Let us then learn from this passage, that, unless God be served without a rival, religion is altogether perverted by the impious admixture.

(1) Deut 8:15-16; Ps 107:4-7; Eseg 16:8; Sag 2:8  (2) Eks 19:4; Eseg 17:3; Ps 17:8; 91:4; Openb 4:7-8; 12:14  (3) Deut 6:4; Ps 4:9; Jes 43:12; Joh 17:3; 1 Tim 6:15; Jud:25  (4) Eks 32:4-5; Num 25:1-3; 1 Kon 12:28; Eseg 8:3; 14:4 

Vol gehuil van die wildernis. Jahweh het die hulpelose Israel1 in die woestyn, steppe (מדבר) gevind,2 ‘n woeste gebied3 (תהו), ‘n verlate plek (ישׁמן) waar geen mens woon en geen riviere of paaie is nie,4 ‘n land met slange en wilde honde, met wolwe en jakkalse wat angsaanjaend huil, waar kraaie en roofvoëls aas vind en veldduiwels rondspring.5
(1) Eseg 16:4-5  (2) Hos 9:10  (3) Gen 1:2; Jes 34:11  (4) Ps 107:4; Jes 43:19-20  (5) Jes 13:20-22; 34:11-15; Sef 3:3
.

Weldaad:  land en oorvloed (Deut 32:13-14)

10.  Oor elke slagveld het Hy hom laat ry
en hom ‘n land vol vrugte laat betree; 
ook heuning uit ‘n skeur in harde rots
en olie van olyf aan hom gegee.
13a  Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde,
13b  en hy het die opbrings van die veld geëet;
13c  en Hy het hom heuning uit die rots laat suig
13d  en olie uit die klipharde rots;
11.  Hy’t botter, melk en skaapvleis hom geskenk,
en vee uit Basan, almal vet en blink,
die allerbeste koring op die land,
jou sap van druiwe, goeie wyn, laat drink.
14a dikmelk van beeste
14b  en melk van kleinvee
14c  met die vet van lammers en ramme;
14d  stiere van Basan en bokke,
14e  met die niervet van koring;
14f  en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn. 
Die derde reeks weldade wat Jahweh aan sy volk bewys het, is die Beloofde Land,1 die Goeie Land2 wat oorloop van melk en heuning.3
(1) Jes 58:14  (2) Deut 8:7-10  (3) 23 x  in een vers, bv Eks 3:8 en Deut 31:20; vgl Ps 81:17
.
Hoogtes (במות) beteken volgens BDB onder meer “battle-fields, the chief places of the land giving possession, victory, dominion”1
(1) Jes 58:14; Deut 33: 29; 2 Sam 1:19, 25; 22:34 = Ps 18:34; Hab 3:19
.

Dikmelk (חמאת) = ‘botterolie’.  BDB dink die woord verwys na “curd, curdled milk” soos leben, ‘n soort dikmelk wat baie in die Midde-Ooste gedrink word.  KB gee “sweet, new butter, stil weak”.  Die Septuagint vertaal dit met βουτερος en die Vulgaat met butyrum, ‘botter’.  Behalwe die wyn is die voedsel wat vers 14 noem dieselfde as die maaltyd wat Abraham aan sy gaste voorgesit het (Gen 18:6-8): ‘n graanproduk, vleis, melk en botterolie wat baie langer in ‘n warm klimaat hou as ons gewone botter.

Die melk is by die maaltyd gedrink en die botterolie, “clarified butter, ghee” is waarskynlik aangebied in ‘n bakkie waarin elke happie vleis en brood gedoop is (Ps 55:22).

‘n Tradisionele Arabiese feesmaal is “served up in a large wooden dish, in the center of which the boiled wheat is placed, and the meat around the edge.  A wooden bowl containing the melted fat is pressed down in the midst of the boiled wheat, and every morsel is dipped into this melted fat before being swallowed” (Freeman, bl 19).

Die melk wat Jael vir Sisera in ‘n mooi bakkie gee, het sy geskink uit ‘n velsak met melk wat in die proses was om tot botter verwerk te word.1
(1) Rigt 4:19; 5:25; Spr 30:33; Jes 7:22; sien UN, 1990, Part B, Section II, 4.4, Leben en Section III, 1 Butter; 2 Clarified Butter
.

Lammers (כרים) = ‘slagskape’, jong, oortollige ramme wat toegelaat is om te wei en vet te word vir slag.  ‘Vet-van’ beteken die ‘beste’ slagskape en skaapramme (vgl KB en Num 18:12).

Stiere van Basan is letterlik ‘seuns-van Basan’, stamboekdiere wat van Basan afstam.  Basan is ‘n vrugbare landstreek, oos van die Jordaan, beroemd vir alles wat daar groot en imponerend is (KB):  reuse,1 stede,2 bome,3 berg,4 bulle,5 koeie6 en kleinvee.7
(1) Deut 3:11. (2) 1 Kon 4: 13. (3) Jes 2:13. (4) Ps 68:16. (5) Ps 22:13. (6) Amos 4:1. (7) Eseg 39:18.
.

Niervet van koring = “the finest and most nutritious wheat.” (KD, bl 474; Ps 81:17; 147:14)

Misdaad:  afgodediens (Deut 32:15-18)

12.  Toe het Jesurun moddervet geword,
hom liefdeloos aan God se diens onttrek.
Sy God verwerp, sy Rots van heil verag,
met vreemde god sy woede opgewek.
 
15a Toe het Jesurun vet geword en agterop geskop
15b jy het vet geword, dik geword, spekvet geword
15c en hy het God verwerp wat hom gemaak het
15d en die steenrots van sy heil geminag.
16a Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek;
16b deur gruwels Hom geterg.
13.  Aan duiwels het hul offers aangebied,
aan ‘n nié-god hul dank en lof betuig,
Jy het jou Rots wat lewe skenk vergeet,
en voor jou Skepper-God nie neergebuig.
17a Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is,
17b gode wat aan hulle nie bekend was nie;
17c nuwes wat kort gelede opgekom het
17d vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.
18a Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam
18b en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.
Die Aanklaer sluit sy betoog af met ‘n hexa-strofe (twee tri-strofes; sien afd 5) oor die misdade van Israel.  Hulle het die weldade as vanself beskou, spekvet geword.1  En toe het Jesurun aan vreemde gode,2 gruwels, afgode, duiwels geoffer en so die grondslag van die verbond verbreek.3  Die volk het God vergeet4 wat hulle deur sy woord, sy belofte aan Abraham, Isak en Jakob, verwek het.5  Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte.6  Die Woord is die saad van die wedergeboorte.6  Hulle het die Rots geminag, nie geglo nie.  Die Rots is die Rots van heil, redding (ישׁועה; soms σωτγρ in LXX).7
(1) 1 Sam 2:29; Jer 5:28  (2) Ps 44:21  (3) Deut 8:11-20; 31:16, 20; Hos 13:6  (4) Ps 78:7  (5) Eks 32:13; Gen 17:5; 21:1-2  (6) Gal 4:28  (7) 1 Petr 1:23; Joh 1:12-13; 3:3 ev  (7) Ps 62:3, 7; Jes 17:10; Luk 1:71; 2:11; Jud 1:25
.
Die grondslag1 is:  Ek is jou Skepper, jy is my verteenwoordiger,2 Ek is jou Vader, julle is my kinders,3 Ek is jou God, jy is my volk,4 die bruid wat vir haar man versier is.4  Die kern van die eerste hofsaak is die verhouding Rots :: volk wat verbreek is.  Die grondslag bly dwarsdeur die Bybel dieselfde.  Die gee van liefde en vertroue aan wat nie-God is (owerspel),5 roep die jaloesie en woede van die Man op,6 die vloek van die verbond.7
(1) statement of substance, Grundsatzerklärung; Vannoy, bl 133, n 5  (2) Gen 1:27; Deut 32:6 (3) 2 Sam 7:14; 1 Kron 17:13; 22:10; 28:6; Ps 68:6; 89:27; 103:13; Spr 3:12; Jes 9:5; 63:16; 64:8; Jer 3:4; 3:19; 31:9; Mal 1:6; 2:10; Mat 6:9; ens.  (4) Eks 19: 5-6; Deut 26:17-18; 2 Kor 6:16; Openb 1:6, 21:3 (5) Openb 21:2-3. (6) 2 Kon 19:18 = Jes 37:19; 2 Kron 13:9; Jer 2:2; 3:6 ev; 5:7; Hos 2:12; 16:20; Hos 8:6; Openb 21:8. (7) Eks 34:14; Jes 54:5; Ps 78:58; Eseg 8:3 ev; Openb 17:4-5 (8) Eks 20:5-7; Lev 26; Deut 28
.

Jesurun beteken volgens al die geraadpleegde bronne ‘Opregte (volk),’ die opregtes in Num 23:10.  In Jes 44:2 is Jesurun die volk wat Jahweh gemaak en verkies het.  Israel is die kleipot wat reg is in die oë van die pottebakker (Jer 18:4).  Israel is goed-geskape, regskape mense, maar hulle verval in sonde, ver-eet hulle aan die gawes soos Adam (vgl Spr 23:2; Num 11:33).  Name word meesal net in voetnote of kommentare vertaal.

Duiwels (שׁדים) is parallel aan afgode (אלהים) in vers 17 en in Openb 9:20.  Die Septuagint vertaal dit hier en in Ps 106:37 met δαιμονια ‘demone, duiwels,’ ‘n woord wat 60 keer in die NT verskyn en op sy beurt parallel is aan geeste (πνευματα; Luk 4:33; 8:2; 9:42; 1 Tim 4:1; Openb 16:14).

Dit is die bose geeste wat die verbondsvolk deur alle eeue heen bedreig met eiewillige godsdiens en pogings om die leer van die Heilige Gees wat lewe bring en die leer van die bose geeste wat siekte en dood bring te kombineer:  Julle kan nie God en Mammon dien nie.1  Trek die volle wapenrusting van God aan sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wereldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.2
(1) Mat 6:24; Luk 16:13  (2) Efes 6: 11-12; 2:2; Mat 6:24; 1 Kor 10:19-22; 2 Kor 11:4
.
Vergelyk ook ‘die eet van afgodsoffers en hoereer’ en ‘die leer van die Nikolaïete,’1 wat volgens van der Waal2 ‘n tipologiese kensketsing van sinkretisme is: kompromieë tussen byvoorbeeld Israel en Moab se godsdiens deur huwelike en tussen die leer van die kerk en die sinagoge deur gemeenskaplike (paas-) maaltye.3
(1) Openb 2:6,  14-15 en 20  (2) 1981, bl 89, 96-7, 103-4  (3) vgl 1Kor 5:9-13; 10:8; Efes 5:5-6; Openb 21:8; 22:15; 2 Kon 17:33, 41; Eseg 8:3 ev
.
Samevatting van Griffier (Deut 32:19)
Ellende:  Die HERE verwerp sy volk (Deut 32:19)
.
14  Toe God dit sien het Hy uit ergernis 
sy kinders weggewerp en ook verklaar:
19a Toe die HERE dit sien, het Hy hulle verwerp,
19b uit ergernis oor sy seuns en dogters.
Na die afsluiting van die aanklag met ‘n hexa-strofe (sien afd 5) wag almal op die Regter se uitspraak.  As inleiding gee die Griffier met een mono-strofe ‘n samevatting van die Regter se bevinding:  Skuldig, Jahweh verag, verwerp1 sy seuns2 en dogters.3
(1) Jer 14:21; vgl Jes 5:24  (2) Jes 1:2, 4; 30:1, 9  (3) Jes 32:9; Jer 14:16; Kla 2:6.; Amos 7:17; Luk 23:28
.
Uitspraak van die Regter (Deut 32:20-27)
Bevinding:  nie-God – nie-volk (Deut 32:20-21)
.
Kriminele sake word in Suid-Afrikaanse howe volgens advokaat Chris Schuring gewoonlik in twee afdelings verdeel.  Eers ‘n verhoor waarin die regter ‘n rooi toga dra en sy bevindings lewer oor skuldig of onskuldig.  Dit handel meesal oor “Facts, Issues, Law, Application of the Law, Conclusion = FILAC”. En dan ‘n verhoor waarin die regter ‘n swart toga dra en vonnis vel na oorweging van versagtende en verswarende omstandighede.
.
Ek draai My weg en trek my sorg terug!
en Ek sal sien hoe hulle dan sal vaar.
20a En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg
20b Ek wil sien wat hulle einde sal wees;
15.  Want hulle is ontrou, ‘n dwars geslag
wat My getart het deur nie-God te eer.
Met nié-volk sal Ek hulle almal tart,
‘n dwase nasie sal hul gou verteer. 
20c  want ‘n heeltemal verkeerde geslag is hulle,
20d  kinders in wie geen trou is nie.
21a  Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is
21b  My geterg deur hulle nietige afgode.
21c  Ek sal dan hulle ywer wek deur die wat ‘n nie-volk is
21d  deur ‘n dwase nasie sal Ek hulle terg.

Tyd en plek van die kriminele sake in Moses se lied (Regter-Koning vs volk) en kriminele sake in Suid-Afrikaanse howe (owerheid vs burger) is baie verskillend.  ‘n Opvallende ooreenkoms is nogtans dat die Regter in Moses se lied eers ‘n bevinding gee wat bepaalde aspekte van “FILAC” insluit en daarna die vonnis vel (Swaard, Honger en Pes).  Dit kan ook nie anders nie, want vonnis-oplegging volg regmatig na skuldig-bevinding.

Die Regter vind die volk skuldig.  Hy draai sy gesig weg,1 keer sy rug op sy kinders, verlaat hulle.2  Groter ellende is daar nie:  My God, my God, waarom het U my verlaat?.3
(1) Deut 31:17; Ps 143:7; Eseg 43:23-24. (2) ‹aazab; Deut 31:17.  (3) ‹aazab; Ps 22:1; Mat 27:46
.
Die eerste motivering is dat die volk ‘n verkeerde en trouelose = ongelowige geslag is, soos ook later in die tyd van die Nuwe Testament.1  Hy gaan die oog-vir-oog-strafreg2 toepas.  Hy sal hulle met ‘n nie-volk,3 ‘n dwase nasie4 jaloers maak (= ywer wek)5 en tart, want hulle het Hom met afgode,6 met nie-God jaloers gemaak7 en uitgetart (vergelyk die 1983-Vertaling en die Direkte Vertaling).  Laasgenoemde is die tweede rede vir die skuldigbevinding.
(1) Mat 12:39; 17:17; Mark 8:38; 9:19; Luk 9:41  (2) Eks 21:24; Lev 24:20; Deut 19:21  (3) 1 Petr 2:10  (4)  Ps 74:18; Jer 5:15  (5) 1 Kor 10:22  (6) 2 Kor 6:16  (7) Eseg 8:3; 1 Kor 8:4
.
Wanneer Christus teenoor die oog-vir-oog strafreg stel dat jy ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie,1 wys hy die reg in eie hande neem af2 en nie dat die owerheid die swaard in verhouding tot die oortreding moet hanteer nie.3
(1) Mat 5:38-42; Rom 12:20  (2) 1 Sam 25:26; Num 35:12  (3) Rom 13:4; 1 Petr 2:14
.

Nie-volk.  Nigosian, bl 9, gee ‘n samevatting van die volke wat skrywers al met die nie-volk geïdentifiseer het:  Siriërs, Assiriërs, Chaldeërs, Skithiërs, Babiloniërs, Edomiete en Ammoniete, enige nasie, Kanaäniete, Moabiete en Ammoniete, en Filistyne.  Moses se profesie is dus baie keer in die geskiedenis vervul.

Hosea identifiseer die nie-volk met Israel.1  As Israel die verbond verbreek, verander sy regstatus van My-volk na Nie-my-volk, nie-seuns.  Vir Paulus is die nie-volk die nie-Jode wat die evangelie glo.  Hy hoop dat dit sommige van sy volk jaloers sal maak, dit wil sê sal laat verlang na die liefde van God.2  As antwoord op die verbondsvloeke vra Lev 26 vir hartsverandering.3  Die dreiging met en die voorbeelde van vervulde verbondsvloeke is ‘n oproep tot bekering.4
(1) Hos 1:9; 2:22; Rom 9:25  (2) Rom 10:19; 11:11, 14  (3) Lev 26:18, 21, 23, 40-41  (4) Rom 11:20-22; Hebr 12:8-11; Luk 13:1-5; Hand 2:36-40; Openb 3:19
.

Vonnis:  Honger en Pes in die land (Deut 32:23-24) 

16.  My toorn, ‘n vlammegloed, is aangesteek,
dit brand tot onder in die doderyk,
die opbrengs van die land word snel verteer,
selfs vaste berge, hemelhoog, beswyk.
22a Want ‘n vuur is aangesteek in my toorn
22b en het gebrand tot in die doderyk daaronder,
22c en dit het die aarde met sy opbrings verteer
22d en die fondamente van die berge aan brand gesteek
17.  Ek stort my toorn en onheil oor hul uit,
my pyle tref hul almal in hul gang:
‘n pyl van hongersnood, ‘n pyl van pes,
‘n wrede dier, ‘n dodelike slang.
 
 
 
23a  Ek sal onheile op hulle ophoop;
23b  my pyle sal Ek op hulle wegskiet.
24a  As hulle uitgeput is van honger
24b  en verteer deur koorsgloed
24c  en dodelike siekte
24d  sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat
24e  met die gif van stofkruipers.
Jahweh bly getrou aan die verbond: al sy beloftes en dreigemente bly van krag.1  Onse God is ‘n God van liefde,2 maar ook ‘n verterende vuur.3  Die vonnis wat op die bevinding volg, is die verbondsvloeke soos opgeteken in Lev 26 en Deut 28.  Die seënryke oorvloed van die Goeie Land word deur die vloek verteer.
(1) Rigt 23:15  (2) Deut 7:8; Joh 15:35-39  (3) Deut 4:24; Hebr 12:29; Jes 5:24-25; 30:27; 30:30; Jer 17:4; Klaagl 4:11; Luk 12:49; 2 Thes 1:8; Openb 8:8
.
Fondamente van die berge (Deut 32:22 en Ps 18:8) = ‘fondamente van die hemel’ (2 Sam 22:8), dit wil sê ‘hoë berge.’  Die vuur van sy toorn brand van laag tot hoog, van die doderyk onder, tot die land op horisontale vlak, tot die hoogste berge.  Nêrens is daar wegkruipplek vir sy gloeiende toorn nie.1
(1) vgl Amos 9:2-3; 1 Sam 13:6; Hos 10:8; Luk 23:30; Openb 6:15-17)
.

Koorsgloed (רשׁף) = ‘vlam’ en dodelike siekte (כטב)= ‘angel’ word in Hab 3:5, Ps 91:6 en Hos 13:14 met pessiekte (דבר) verbind.  ‘Vlam’ en ‘angel’ is name van duiwels in buite-bybelse bronne (Nigosian, bl 54). In Openb 9:10-11 kom sprinkane met skerpioen-angels uit ‘n afgrond waar god Abaddoon ‘Vernietiging’ regeer.  Die pes en angel-sprinkane is deur God gestuur.

Honger, Pes, Wilde diere en Swaard (verse 24-25) is die ‘wraak van die verbond.’1  Moses se lied onderstreep die oordeel wat op afval volg en die profete trek die lyn verder, byvoorbeeld 15 x swaard, honger en pes in Jeremia2 en 7 x in Esegiël.3  Jesus sê dat die drie oordele oor Jerusalem sal kom4 en in Openb 6 gee Hy aan Johannes die gesig van die vier perde: wit perd met boog/pyle, rooi perd met swaard, swart perd met honger, geelgroen perd met pes en in vers 8b ook nog die wilde diere.
(1) Lev 26:22, 25-26; Deut 28:21-26  (2) Jer 14:12; 21:7; 21:9; 24:10; 27:8; 27:13; 29:17; 29:18; 32:24; 32:36; 34:17; 38:2; 42:17; 42:22; 44:13  (3) Esg 5:12; 5:17; 6:11; 6:12; 7:15; 12:16; 14:21  (4) Mat 24:6-7; Luk 21:11, 24
.

Dit is tipologiese voorbeelde van die verbondsvloek oor die verbondsvolk, nie wêreldrampe in die algemeen nie (van der Waal, 1981, bl 153-4, 156) en ook nie eksakte beskrywings van die vervulling daarvan nie.  Die pyle is enige onheil.  Pyle is parallel aan onheile in vers 23, aan verskrikkinge in Job 6:4 en skrik in Ps 91:5.  Die vloek-trio is taalkundig gesien ‘n uitgebreide woordpaar wat na enige dodelike onheil verwys.  Woordpare in Afrikaans is bv sak en pak en kreun en steun.

Die woordpare hierbo druk een omvattende begrip uit deur twee woorde in dieselfde woordklas met gemeenskaplike en verskillende betekenis-komponente. Die herhaalde komponent beklemtoon die omvattende eenheid van die begrip en die verskillende komponente na die verskeidenheid in die begrip: dag en nag = tydsduur + lig + tydsduur + donker = altyd, aanhoudend onder enige omstandigheid: lig of donker, somer of winter. Met sak en pak vertrek is om met al jou goed in sakke en pakke en tasse ensovoort te vertrek.

In Hebreeus en Grieks kan woordpare met ‘n derde en ‘n vierde lid uitgebrei word.  Swaard en Honger is ‘n woordpaar (40 x in OT) wat na oorlog en hongersnood as realistiese voorbeelde van enige dodelike onheil verwys.  Soms is dit uitgebrei met Pes (in 24 van die 40) en ‘n paar keer ook nog met Wilde diere in 2 van die 40) of met ‘n ander onheil (Jer 15:2; Eseg 5:17; Deut 28:61).

  • ons sal geen swaard of hongersnood sien nie (Jer 5:12; 11:22; 14:13, ens)
  • deur die swaard en die hongersnood en die pes (Jer 21:7, 9; ens)
  • vier kwaai gerigte, swaard en hongersnood en wilde diere en pes (Eseg 14:21)

Hoe meer uitbreidings, hoe meer word die verskriklikheid en verskeidenheid van die dodelike onheile beklemtoon.  ‘n Ander voorbeeld van ‘n uitbreidende woordpaar is die opdrag om barmhartigheid te bewys aan almal wat behoeftig is:  weduwee en wees (30 x in OT; bv Eks 22:22), weduwee en wees en vreemdeling (18/30 x, bv Deut 10:18) en ook nog aan die Leviet (5/30 x, bv Deut 26:12-13).

Vonnis: Swaard in die land (Deut 32:25)

18.  My swaard so skerp, maak buite almal dood,
verskrik, beangs vir dié wat binne is,
vir jongman, jongvrou, suigling, grys en oud,
na reg sou Ek hul almal uit moes wis.
25a  Buitekant sal die swaard beroof,
25b  en in die binnekamers die verskrikking;
25c  die jongman sowel as die jongedogter,
25d  die suigling saam met die grysaard.
Teenoor die sorg in die woestyn, dreig die swaard om die hele verbondsvolk om te bring.1  Esegiël 21 profeteer hoe die blink en skerp geskuurde swaard van Jahwêh Israel sal uitroei.  Gaan Hy die regverdige saam met die goddelose vernietig?2  Het God miskien sy volk verstoot?3
(1) Jer 14:15-19; Klaagl 1:20; 2:21; Eseg 9:6; Hos 11:6; Luk 21:24; 23:28; Openb 6:4  (2) Eseg 21:3-4; Eseg 9:8; Gen 18:25; Jer 14:19  (3) Rom 11:1
.

Vonnis-versagting: Hy bewaar ‘n oorblyfsel (Deut 32:26-27)

19.  Maar sommiges van hul sal Ek bewaar,
want anders sal die vyand spog en lag:
Ons hand en krag het Israel verslaan
en nié die HEER van Jakob se geslag.
26a  Ek sou gesê het: Ek wil hulle wegblaas,
26b  hulle gedagtenis onder die mense uitroei – 
27a  as Ek nie vir die terging van die vyand bedug was nie
27b dat hulle teëstanders dit sou misverstaan
27c  en sê: Ons hand was hoog,
27d  en die HERE het dit alles nie gedoen nie.
Volledig verstoot?  Nee, beslis nie!1  Die gemerktes is gespaar.2  In ooreenstemming met die strofe oor die ewige verkiesing deel verse 26-27 mee dat God barmhartig is deur ‘n oorblyfsel, ‘n res van Israel te bewaar om so sy eer en sy Naam hoog te hou3 soos Hy ook te midde van die verbonds-vloeke belowe het.4  Sonder ‘n oorblyfsel kan die beloofde groot Profeet5 en Messias6 nie kom nie.  Die Regter het versagtende omstandighede gevind, nie by Israel nie, maar by Homself.  Dit bring ‘n einde aan die vyand se hoogmoed.  Die vyand is in Jesaja 10:15 God se staf, maar hoe kan die staf beweer dat hy die staf ophef om te slaan?
(1) Rom 11:1-4  (2) Eseg 9:6  (3) Eks 32:12 ev; Num 14:12 ev; Deut 9:25 ev; Jes 48:9-11; Eseg 20:9, 14, 22  (4) Lev 26:39-45; Deut 4:27-31; 28:62; Ps 89:31-34  (5) Deut 18:15. (6) Num 24:17
.
Sou … as nie.  Sien Jes 1:9 en Gesenius §159 (l) vir die konstruksie.  Dat Hy ‘n oorblyfsel bewaar is die verskil tussen die oordeel oor die afvallige Israel en die oordeel oor die wrede nasie.  In toorn dink Hy aan ontferming.1 Hy tugtig sy seun, maar slaan hom nie dood nie.2  Genoeg, trek nou jou hand terug!3  Die oorblyfsel is ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is.4
(1) Hab 3:2  (2) Spr 19:18; 2 Sam 7:14; Jer 5:10; 5:18  (3) 2 Sam 24:16; 1 Kron 21:15; Eseg 20:22  (4) Amos 4:11; Sag 3:2; Jud 1:23
.

Wegblaas (פאה). Die woord kom net hier voor.  Met verwysing na Arabies gee BDB en KB “cleave in pieces”.  Nigosian, bl 55, verwys na Ugarities en vertaal:  “shatter them (to pieces)”  Sien uitwis in die laaste lyn van die beryming van Deut 32:25.

Vyand en teëstander (verdrukker) is ‘n woordpaar (18 x in OT) wat ‘n genadelose opponent beskryf, iemand of ‘n groep wat op alle moontlike maniere vyandig is en verdruk, soos in Est 7:4-6:  Ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg, gedood en uitgeroei te word … Die teëstander en vyand is hierdie slegte Haman! (vgl Jes 1:24; Luk 1:71; Hebr 10:27).

TWEEDE HOFSAAK: JAHWEH VS VYANDIGE NASIE (Deut 32:28-42)
Aanklag van die Aanklaer (Deut 32:28-33)
Titulatuur: dwase nasie (Deut 32:28-29)
.
20.  Die nasie wat so spog, beplan verniet,
het geen verstand, is insigloos en dwaas.
Was hulle wys, dan sou hul dit verstaan,
dat hoogmoed hulle eie dood verhaas.
28a  Want ‘n nasie van verlore raadsplanne is hulle,
28b  en daar is geen verstand in hulle nie.
29a  Was hulle wys, hulle sou dit insien,
29b  hulle sou op hulle einde let.

Met vers 28 begin ‘n nuwe fase in die hofsitting (Nigosian, bl 151).  Die beregting van Israel is afgehandel:  regverdig (verbondsafval vra vir verbondsvloek) en barmhartig (‘n oorblyfsel).  Maar nou bly nog die hoogmoedige vyande van Israel oor:  Jahweh vs vyandige nasie.  Dieselfde hofprosedure word gevolg.  Die Aanklaer begin met ‘n karakterskets (titulatuur, 28-29), dan ‘n beskrywing van Jahweh se weldaad (30-31), die vyand se misdaad (32-34), die Regter se bevinding (35-39) en die swaard as vonnis (40-42).

Dit sou vreemd wees as Israel direk na die eerste hofsaak weer in ‘n tweede hofsaak veroordeel en weer met die swaard gestraf sou word.  Die ‘hulle’ in verse 28-35 en 37-42 handel oor ‘n vyandige nasie.  Die vyandige nasie is die geestelike nasate van Sodom en Gomorra.  Sodom en Gomorra is die tipologiese voorbeeld van almal wat hulle soos Sodom en Gomorra gedra en soos Sodom en Gomorra totaal vernietig sal word.

Die nasie is enige vyandige nasie of party binne en buite Israel wat so hardvogtig en onnatuurlik soos Sodom en Gomorra teen God, sy dienaars en sy kinders optree.  Dit sluit Israel in wanneer dit self ‘n wrede nasie word, nie-seuns wat aanhou om die verbond te verbreek en profete-bloed te vergiet (Mat 23:29-39. Luk 11:49-51; Openb 16:5-7).

Die vyandige nasie binne en buite Israel is dwaas.  Hulle planne slaag nie, hulle is sonder verstand, onwys en besef nie die konsekwensies van hulle optrede nie.1  Vergelyk die titel dwase nasie in 32:21.  Nestle-Aland en UBS verbind bv Hebreeus לו ‘ag as’ in vers 29a met Grieks ει ‘ag as’ in Luk 19:42 waar Jesus oor die komende verwoesting van Jerusalem huil.  As  dit korrek is (LXX gebruik nie ει nie), dan pas Jesus die nasie se gebrek aan insig op Israel toe.
(1) Ps 2:10; 14:1-2; 73:17; 94:8; Jes 47:7; Jer 10:7-8; 49:7; Obad 1:7-8; Filip 3:19; 1 Thes 2:16
.

Daar is twee skole.  Enersyds kommentatore soos Calvyn, Keil & Delitzsch en van der Waal wat die tweede hofsaak direk met Israel verbind, en andersyds skrywers soos Kroeze in BVA, Ridderbos en Nigosian wat dit net op ‘n buitelandse nasie laat slaan (sien Nigosian, bl 56, n 40).

In die onderhawige verklaring word nie een van die twee skole gevolg nie. Elkeen van die twee skole vind bevestiging van hulle standpunt in die profete.  Die vraag is nie watter een van die twee skole reg is nie, maar waarom die profete in die Ou en Nuwe Testament die dreiging van die tweede hofsaak op sowel die nasies as op die afvallige Israel kan toepas.

In byvoorbeeld Jes 1:10 word Israel Sodom en Gomorra genoem en in Openb 11:8 is Jerusalem se titels Sodom en Egipte, omdat Jerusalem tot Sodom en Egipte verword het.1  Die tweede hofsaak oor Sodom se geestelike nasate is op die ou en nuwe verbondsvolk van toepassing as die geheiligde volk aanhoudend Sodom se giftige druiwe-bloed vir ander inskink, die bloed van Christus verag en die getuienis van die Heilige Gees verwerp.2
(1) Van der Waal, 1981, bl 220-23  (2) Jes 63:10; Mat 12:32; Mark 3:28-29; Luk 12:10; Hebr 2:2-4; 6:4-6; 10:26-27; 12:25
.
Die oordeel begin by Israel (eerste hofsaak) en daarna volg die oordeel oor die vyande van God se dienaars (tweede hofsaak) wat ‘ha ha!’ oor Israel se val geroep het.1  Dit is die normale volgorde in die Skrif.2  Eers die Jood en dan die Griek in vloek en seën.3  Skerper nog:  die oordeel begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.4 In vandag se taal en verbondsbedeling beteken dit: by die ouderlinge van die gemeente.
(1) Eseg 25:3; vgl Klaagl 1:7  (2) Jes 10:12; 51: 22-23; Jer 25:29  (3) Rom 2:9-10  (4) Eseg 9:6; 34:2 ev; Hos 5:1; 1 Petr 4:17
 .

Weldaad:  aangestel as roede (Deut 32:30-31)

21.  Kan een ‘n mag van duisend man laat vlug
as Isr’el nie verkoop was deur hul HEER?
Ons Rots, nie hulle rots, beheer die stryd,
hul regters kan die feite kontroleer.
 
30a  Hoe kan een dan duisend agtervolg
30b  en twee tienduisend op die vlug jaag;
30c  was dit nie dat hul Steenrots hulle verkoop
30d  en die HERE hulle oorgelewer het nie!
31a  Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie,
31b  ja, ons vyande self is skeidsregters!

Jahweh het die vyand aangestel as roede teen Israel.  Hy het sy volk aan die teëstanders verkoop, uitgelewer, want Hy wil Israel jaloers maak.  Vir die vyand is dit ‘n weldaad om Israel op loop te kan ja en om buit te maak, roof in te samel en om hulle in die modder te vertrap. Maar hulle is hoogmoedig, sien dit nie as ‘n daad van Jahwêh nie, inteendeel, om te verdelg is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie (Jes 10:1-3; Hab 1:12; Eks 15:9).

Die feit wat almal moet erken en waaroor die Aanklaer se ondervraging handel, is dat net ‘n paar vyande, een of twee, die hele leër van Israel laat wegvlug.1  Dit het geen krag van die vyand geverg nie.  Met ander woorde ‘ons Rots’ het die veldslag beheer, nie ‘hulle rots’ nie.2  Die vyand kan self die feite oor die veldslag kontroleer en sal dan soos enige goeie regter tot dieselfde konklusie moet kom.
(1) Jes 30:17; Lev 26:17, 36; Jos 7:3-5, 11-12; omgekeerd in Lev 26:8; Jos 23:10; Rigt 7:22; 15:15  (2) 1 Sam 17:47; 2 Kron 20:15
.

Nigosian, bl 56, meen dat regters nie in die konteks pas nie.  Die probleem is nie die betekenis ‘regters’ nie (vgl Jes 16:3; 28:7), maar die vraag in watter opsig ‘hulle rots’ en ‘ons Rots’ in die konteks van mekaar verskil.  Die verslag oor die veldslag toon die verskil aan.

Misdaad:  roede onnatuurlik giftig (Deut 32:32-33)

22.  Hul stam van Sodoms bose wynstok af,
Gomorras wingerd voed hul drang en drif;
hul druiwetros is bitterder as gal,
die wyn wat hulle skink is addergif.
 
 
32a Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom 
32b en uit die wingerde van Gomorra;
32c hulle druiwe is giftige druiwe,
32d bitter trosse dra hulle.
33a Hulle wyn is slanggif
33b en wrede addergif.
Die vyand is so sleg en hardvogtig as Sodom van wie se wingerde hulle afstam.1  Hulle planne en dade om Israel te wil uitroei, is so bitter en giftig as die druiwe2 en wyn van Sodom en Gomorra3 waar sodomie en geweld hoogty vier4 en mense openlik hulle luste verkondig om selfs gaste aan te tas wat beskerm is deur die gaste-reg.5  En dit ten spyte van die feit dat die hele Jordaanstreek oral volop water gehad het voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het.  Hulle woongebied met wingerde en al was soos die tuin van Jahweh.6  Die vyand ignoreer die gawes, oorskry grense, oorskry die taak van ‘n tugmeester.7
(1) Jes 5:2; Jer 2:21; Hos 10:1  (2) Jes 5:4  (3) Jes 1:10; Jer 23:14-15; Eseg 16:46; Rom 9:29; Openb 11:8  (4) Gen 13:13; 18:20; 19:4-9; Rom 1:26-27  (5) Gen 19:5-8;  Jes 3:9  (6) Gen 13:10; Hebr 6:7-8  (7) Eseg 25:12, 15
.
Die ‘volk’ se misdaad is afgodediens, oortreding van die eerste gebod en verbreking van die verbond.1  Die ‘nasie’ se misdaad is dat hy ‘onnatuurlik’ ongenadig is.  Druiwe se natuur is om soet te wees, maar Sodom se wyn is bitter en giftig.2  Vergelyk Paulus se beskrywing van die onnatuurlike gedrag van nie-Jode in Rom 1:18-32.  In terme van Rom 1 is Israel se ongenadige vyand-en-teëstander geweldenaars, sonder natuurlike liefde, onversoenlik en onbarmhartig.  Ook al weet hulle deur die skepping dat die wat sulke dinge doen die dood verdien.3  Paulus konkludeer:  Almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word.4
(1) Deut 31:16  (2) Jer 8:14; 9:15; 23:15; Klaagl 3:19; Hos 10:4; Ps 69:22  (3) Rom 1:20, 30-32  (4) Rom 2:12
.
Die dwase nasie (vers 21) en Sodom (vers 32) is in die lied buitelandse vyande.  Maar soms noem die profete Israel ‘n nasie.1  En Sodom is nie net ‘n waarskuwende voorbeeld vir die nasies Babel,2 Edom,3 Moab en Ammon4 nie, maar dikwels ook vir Israel.5
(1) Jes 1:4, Jer 5:9; Hag 2:14  (2) Jes 13:19; Jer 50:40  (3) Jer 49:18  (4) Sef 2:9  (5) Jes 1:9-10; Jer 23:14; Eseg 16:46, Openb 11:8
.
Wanneer Jesaja sê:  Hoor die woord van die Here, owerstes van Sodom!  Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!1  dan spreek hy Israel aan en sê hy dat Israel soos Sodom en Gomorra geword het.2  Israel se sonde is selfs groter as die van Sodom en Gomorra.3  Die leuens en geweld van die binnelandse vyande in Ps 58 en Ps 140 is die slanggif van Sodom.4  Johannes die Doper en Jesus noem die leiers van Israel slange en addergeslag,5 titels wat vers 33 van die lied aan Sodom en Gomorra se nasate gee.  Gif en toorn is een woord in Hebreeus (חמה).  Die wyn van toorn in die beker wat Jerusalem vir ander inskink en nou self moet drink, is die giftige wyn in Moses se lied.6  Die giftige slange (δρακων in LXX) is ten diepste die draak, die vinnige, kronkelende slang, die mensemoordenaar van die begin, die duiwel en Satan.7
(1) Jes 1:10  (2) Jer 23:14; Openb 11:8; vgl 18:2, Babel = Jerusalem, v d Waal, 1981, bl 306 (3) Klaagl 4:6; Eseg 16:46-49; Mat 10:15; 11:23-24  (4) Ps 58:5; 140:4; Rom 3:13  (5) Mat 3:7; 12:34; 23:33  (6) Jer 25:15; Openb 14:8-10; 16:19; 18:3; 19:15  (7) Gen 3:1; Jes 27:1; Joh 8:44; Openb 12:9
 .
Uitspraak van die Regter (Deut 32:34-35)
Bevinding:  dag van wraak is naby!  (Deut 32:34-35)
.
23.  Bewys van elke bose, wrede daad
sal Ek getrou in my argief bewaar.
Aan My alleen kom toe die dag van wraak;
hul val kom gou, die swaard wat straf staan klaar.
34a Is dit nie by My opgegaar,
34b in my skatkamers verseël nie?
35a My kom die wraak toe en die vergelding,
35b op die tyd as hulle voet sal wankel;
35c want die dag van hulle ondergang is naby,
35d en wat oor hulle beskik is, kom gou.
Die Regter sluit die aanklag af met die mededeling dat Hy die verslae oor die wrede dade sal versamel en veilig in sy verseëlde skatkamer, die argief van die hof, sal bewaar.1  Die boeke word weggepak. Die opgestapelde giftige dade is meer as genoeg bewys van die vyand se skuld.2  ‘n Langer betoog van die Aanklaer is nie nodig nie.  Die Regter gaan nou dadelik sy amp as Wreker uitvoer, want Hy is ook die Koning, die Hoogste Owerheid wat die swaard dra.3 Die tyd waarop die vyand se voete uitgly4 en die dag van hulle ondergang is naby, Hy kom gou. Dié dag is die dag van Jahweh.

(1) Vgl Esra 5:17-6:2 en Mat 27:66; 2 Petr 3:7; Openb 20:3. (2) Hos 13:12; Job 14:17; Ps 149:9; Jes 65:6. (3) Eks 34:7; Rom 13:4 (4) Ps 38:17; 94:18; 121:3

Die dag van Jahweh.  Daar is baie verwysings in die Skrif na Deut 32:35. Jahweh as Regter-Koning is die Wreker,  die volk mag nie reg in eie hande neem nie.1 Dikwels verwys dié dag in die profete-boeke na sy oordeel oor die nasies,2  maar net so dikwels, indien nie meer nie, betrek dieselfde profete die dag van oordeel op Israel, Juda en Jerusalem.3
(1) Nah 1:2-3; Dawid ken Deut 32. Hy sing gedurig van die Rots en laat die wraak op Saul en Nabal aan Jhwh oor; 1 Sam 24:13; 25:26, 33; 2 Kron 24:22;  Rom 12:19; 1 Petr 2:14.
(2) Wraak op die nasies: Ps 110:5 (dag van sy toorn oor nasies); Jes 13:6 (naby is die dag van Jhwh oor Babel); Jes 13:22 (naby is tyd en dae oor Babel); Jes 34:8 (dag van wraak oor Edom); Jes 60:12+22 (ondergang van nasies kom op regte tyd en gou); Jes 63:4 (dag van wraak oor Edom); Jer 46:10 (dag van wraak oor teëstanders, Babel, Egipte, ens); Jer 46:21 (dag van ondergang, tyd van besoeking oor Egipte); Jer 48:16 (ondergang is naby, onheil haastig oor Moab); Jer 49:8 (tyd van ondergang en besoeking oor Edom); Jer 50:27 (dag en tyd van besoeking oor Babel); Jer 50:28 (wraak van Jhwh oor Babel); Jer 50:31 (dag en tyd van besoeking oor Babel); Eseg 21:29 (dag en tyd van besoeking oor Ammon); Esg 25:17 (wraak op Filistyne); Esg 30:3 (naby is die dag van Jhwh oor nasies, Egipte ens); Eseg 46:10 (dag van wraak van Jhwh oor teëstanders, nasies); Joël 2:31; 3:14 (naby is die groot dag van Jhwh oor ‘n menigte nasies); Obad 1:15 (naby is die dag van Jhwh oor Edom en al die nasies)  

(3) Wraak op die verbondsvolk: Jes 1:24 (Jhwh wreek Hom op Israel); Jes 2:12 (dag van Jhwh oor Juda en Jerusalem); Jes 5:19 (Israel glo nie dat die Heilige haastig en naby is nie); Jes 13:9 (die dag van Jhwh gaan die land verwoes); Jer 18:17 (dag van ondergang van my volk); Jer 30:7 (dag en tyd van benoudheid vir Jakob); Eseg 7:7 (die tyd van die einde vir die land, die dag is naby); Klaagl 1:12 (dag van sy toorngloed oor Jerusalem); Klaagl 2:1; 2:21-22 (die dag van sy toorn oor die dogter van Sion); Eseg 7:12 (die tyd het gekom, die dag is naby); Eseg 12:27-28 (Israel sê die dag en tyd geld vir die verre toekoms, nie vir nou nie); Eseg 21:25 (die dag, die tyd van afrekening met die vors van Israel); Eseg 35:5 (Israel se tyd van onheil); Joël 1:15; 2:1 (naby is die dag van Jhwh oor die land); Amos 5:18; 5:20 (die dag van Jhwh is duisternis vir Israel); Obad 1:13-4 (dag van nood en benoudheid vir my volk); Sef 1:7; 1:14 (die dag van Jhwh oor Juda is naby); Mal 3:1-2 (die dag van sy koms is skielik); Mal 4:5 (die vreeslike dag van Jhwh oor Israel).

Die dag van Jahweh is dikwels vervul. Reeds in Jos 7:3 ev word die vloek van Deut 32:30 realiteit: Israel se leër van drie duisend man vlug vir die paar manne van Ai en 36 Israeliete sneuwel.  Israel het my verbond oortree … Ek sal nie meer met julle wees nie, tensy…1 Die boek Rigters is een lang relaas van  herhaalde vervulling van die lied.2  Die boeke Samuel begin en eindig met die tema: Jahweh maak dood en maak lewend, woorde wat die lied van Hanna uit Deut 32 aanhaal.3  Konings sluit af met die verwoesting van Jerusalem en ‘n klein vonkie van hoop vir die ballinge.4  Die historiese proloog in Neh 9:21-37 vertel hoe die lied keer op keer in Israel se geskiedenis vervul is.  Klaagliedere5 en Jesus6 huil oor die verwoesting van die verbond-verbrekende Jerusalem: Julle wou nie!
(1) Jos 7:11-12  (2) Rigt 2:10-23  (3) Deut 32:39; 1 Sam 2:6; v d Waal: bl 70  (4) 2 Kon 21:10-16; 24:2-4, 19-20; 25:27 ev  (5) Klaagl 1:2 ev  (6) Mat 23:37; Luk 19:41-42
.

Maar ‘n oorblyfsel het teruggekeer uit ballingskap en ‘n res is bewaar in nuwe Christelike gemeentes en heidene is ingeënt op die ou stam.

In Eseg 12:21-28 sê die kerkvolk: Moenie bekommerd wees nie, die gesig wat hy sien (swaard, honger en pes in 12:16) handel oor die verre toekoms, van al die gesigte kom tog niks nie, dit kom wanneer die perde horings kry. En drie keer antwoord Jahweh: die dae is naby, dit sal nie meer uitgestel word nie! (vgl ook Jes 5:18-19, 26). Nie lank daarna nie ontvang Esegiël die ontstellende berig:  Die stad is ingeneem!  Die gesigte oor swaard, wilde diere, pes en verwoesting van die land (honger) word vervul (Eseg 33:21-28).

Die engel in Openb 10:6 sweer dat daar geen tyd, geen uitstel van die oordeel sal wees nie: die tyd is naby,1 Ek kom gou!2 Die dreigende oordeel oor Jerusalem is al in 70 na Chr vervul, in die dae van wraak waaroor Jesus profeteer,3 en Paulus,4 en Johannes.5
(1) Openb 1:3; 22:10  (2) Openb 3:11; 22:7, 12, 20  (3) Luk 21:22; Mat 24  (4) 2 Thes 1:8; 2:2; 1 Tim 1:12; 1:18; 4:8  (5) Openb 6:17; 18:8
.

Die lied bly aktueel.  Elke oordeel in die kerkgeskiedenis wys heen na die laaste oordeel, maar dit skakel die oordele oor kerklike afval dwarsdeur die geskiedenis en in hierdie eeu nie uit nie (vgl Luk 13:1-5).  Die lied handel oor seën en vloek, dood en lewe, ingaan of nie-ingaan in die rus vandag (Hebr 3:7 ev; 4:7 ev).  Van der Waal, 1981, bl 198, stel dit só:

Soos destyds omstreeks die jaar 70 die toorn van die Paaslam uitgebreek het, so kan dit nog steeds dreigend gerig word op kerklike afvalligheid in hierdie eeu.  Nog steeds kan die kandelaar in die hemel weggeneem word van ‘n gemeente wat wel nagmaal vier en roem in die loskoop wat Christus bewerk het, die eksodus (Openb 1:5; 5:9; 14:4), maar in werklikheid dit alles vertrap (Hebr 10:29) deur die genade te verruil vir selfverlossing (Judas :4) … en die Evangelie van Jesus Christus los te laat. (vertaal).

In sy kortverhaal Verjonging, skryf van Melle op bl 166:

[Ds] Butler staan daar bewoë, sy oë rooi van teruggedronge trane en hy sou op daardie oomblik alleen wou wees en ween, hartstogtelik ween omdat ‘n prediker van die woord van God, God se woorde, God se waarskuwing verswyg, die fel tekening van komende oordele, verdoesel en oorwaas, die waarheid terughou om bedroefde mense te kan troos in hul smart.

Terug in sy motor dink hy: “Wat preek ons, ons almal? Ons bring troos, ons lê salf op wonde, ons wek op tot ‘n godvrugtige lewe, maar die volle Evangelie bring ons tog nie; ons laat iets weg, ons sit iets by, ons pas dit by omstandighede aan”.   

Die gees van ons eeu het die band tussen God se wraak en ons troos deurgesny.

Samevatting van Griffier: Verlossing, Hy bevry sy volk (Deut 32:36)  

24.  Let op hoe God sy volk se saak hanteer:
Hy gaan nou gou sy dienaars self bevry,
want Hy’t gesien hul krag is weg, gedaan,
en dat daar niemand is wat hulle lei.
36a Want die HERE sal aan sy volk reg verskaf,
36b en Hy sal medely hê met sy knegte
36c as Hy sien dat hulle vashouplek weg is
36d en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.

Die Regter behandel die twee sake ordelik. Hy is besig met sy bevinding oor die vyand, die wrede nasie, en wil soos ‘n goeie regter die sake nie vermeng nie.  Hy noem nie die implikasies, die troos, wat sy bevinding oor die wrede nasie vir die oorblyfsel van Israel het nie.  Hy laat dit aan die Griffier oor om dit wat reeds duidelik is, nog duideliker te maak.

Die bevinding van die Regter, so sê die Griffier, beteken dat Hy tegelykertyd ook sy volk se regsaak hanteer,1 medelye met hulle het.2  Die nie-seuns verander hier in sy volk en sy dienaars.  Lo-Ammi  ‘Nie-my-volk’ word weer Ammi ‘My volk’.3  Die dag van wraak vir die vyand, is ‘n dag van heil en bevryding vir die oorblyfsel.4  Die klein klompie5 skep moed as hulle hoor dat die Groot-Koning met sy leërs op pad is:  Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk julle God kom met wraak, met Goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.6
(1) Ps 54:3; 72:2; 135:14 omgekeerd in Ps 50:4; Jes 3:13-14; Hebr 10:30  (2) Eks 32:12-14; Rigt 2:18; 2 Sam 24:16 = 1 Kron 21:15; Ps 106:44-45; 135:14; Jes 49:13  (3) Ps 90:13; Hos 1:10  (4) Jes 49:7-8 = 2 Kor 6:2; Jes 40;10-11; 61:2; Joël 2:31-32  (5) Deut 28:62; Jes 17:6; Amos 3:12
.
Die verslae in die argief is ook opgestapelde bewyse van sy kinders se ellende. Hulle trane is opgevang in God se kruik en opgeteken in die Regter se boek.1 Hulle gebede en bloed roep om verlossing deur God se wraak:  Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die land nie? Na die oordele kom die lofsang: Vier keer Halleluja … sy oordele is waaragtig en regverdig … Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek.3  Daar is blydskap oor die verlossing, nie oor die ondergang van die vyand nie.  Die Bybel soek die lewe van die goddelose.4  As jou vyand val, verheug jou nie, en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie, dat die HERE dit nie sien nie en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie.5
(1) Ps 56:9; Mal 3:16  (2) Openb 6:10; vgl Gen 4:10; Luk 18:7-8  (3) Openb 19:1 ev; 16:5-7; Deut 32:43  (4) Eseg 18:23; 2 Petr 3:9  (5) Spr 24:17-18
.
Die Koning wat die bloed van sy dienaars wreek, is dieselfde Herder-Koning wat die lammers teen sy bors dra.1  Dawid, die herder, se stok en staf verslaan leeu en beer om sy skape te beskerm.2  Uit sy Seun se mond kom ‘n skerp swaard wat die vyande van die verbondsvolk verslaan en in sy hand is daar ‘n ysterstaf en met sy voete trap Hy die parskuip met die wyn van toorn.3
(1) Jes 40:11  (2) Ps 23:4; 1 Sam 17:34-35  (3) Openb 19:15
.
Wanneer Jesus bid: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.1 vra Hy nie vir afstel van die oordeel oor Jerusalem nie2 – God moet die kwaad straf, dit is sy amp3 – maar vir uitstel, genadetyd vir die verkondiging van die Evangelie, vir bekering en vir vervulling van die belofte van ‘n oorblyfsel (BVA). Stefanus bid: Here reken hulle hierdie sonde nie toe nie!4 “When he prayeth that God will not lay the sin to their charge, his meaning is, that the guiltiness may not remain in them” (Calvyn), met ander woorde dat hulle hul sal bekeer, soos Saulus wat die steniging van Stefanus goedgekeur het.5
(1) Luk 23:34  (2) Luk 23:28-31  (3) Eks 20:5; 34:7; Deut 4:24; Jos 24:19  (4) Hand 7:60  (5) Hand 7:58.
.
Die Wreker-Redder wil gou kom om die vyand te straf, maar ook gou omdat Hy sien dat die oorblyfsel van sy volk se krag gedaan is en dat geen enkele leier of helper oorgebly het nie.1
(1) 2 Kon 14:26; 24:15-16; Jes 3:1-4; 59:16; Eseg 34:5; Ps 74:9; Hos 5:14; 1 Kon 22:17; Mat 9:36
.

Almal sonder uitsondering is ‘n vry vertaling van ‘n woordpaar (עצור ועזוב; sien 1 Kon 14:10, 21:21; 2 Kon 9:8, 14:26) waarvan die betekenis nie heeltemal duidelik is nie.  KB  noem ‘n paar vertalings (no 8 onder עצר) en Nigosian, bl 58, gee nog ‘n klompie ander.

Die letterlike betekenis is: ‘hy-wat-heers (1 Sam 9:17), vashou, terughou’ en ‘hy-wat-verwerp (1 Kon 12:8, 13), verlaat, toelaat’.  Heersers en verwerpers of terughouers en toelaters verwys in die genoemde tekste na allerlei leiers: kragtige hande, helpers, prinse (van Jerobeam, Agab) en manne, soldate.  Saam met ‘aan die einde’ beteken die vershelfte: ‘geen enkele leier, geen terughouer of toelater, het oorgebly nie’.  Nigosian: “neither ruler nor caretaker remaining.”

Uitspraak van die Regter (vervolg; Deut 32:37-42)
Bevinding: geen gode – God alleen (Deut 32:37-39)
.
25.  God vra: waar is hul rots van skuiling nou,
aan wie hul vet en wyn as offers wy?
Laat hulle nou hier opstaan en jul help,
en jul beskerm en van my toorn bevry!
 
 
37a Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode,
37b  die steenrots waarin hulle toevlug geneem het,
38a wat die vet van hulle slagoffers geëet het,
38b die wyn van hulle drankoffer gedrink het?
38c Laat hulle opstaan en julle help,
38d dat daar oor julle ‘n beskerming kan wees!
26.  Besef tog: Ek is God, ja, Ek alleen!
Daar is geen ander god naas My, geeneen! 
Slegs Ek maak dood, net Ek bepaal wie leef;
net Ek verskeur, slegs Ek genees en se͡ën!
39a Aanskou nou dat dit Ek is
39b en dat daar geen God naas My is nie;
39c Ek maak dood en maak lewend,
39d Ek het verbrysel en Ek genees;
39e en daar is niemand wat uit my hand red nie.
Na die besluit om gou op te tree gaan die Regter voort met sy bevindings waarin Hy tot die kern van die saak deurdring: die verhouding rots :: nasie. In die eerste hofsaak is die kern die verhouding Rots :: volk. Die Regter bevind in verse 37-38 dat daar nie ‘n ander god, ‘n ander rots is waarin die vyand kan skuil en beskerming vind nie. Waar is hulle?1 Die rots in die verhouding rots :: nasie bestaan nie. In antwoord hierop bely Israel dat nie afgode nie, maar Jahweh die Rots is waarin hulle skuil,2 soos onder die vleuels van ‘n arend.3 Hy is die God waarop hulle vertrou (חסה, LXX πειθω).4
(1) Rigt 10:14; Hos 13:10; Jes 57:13  (2) 1 Sam 2:2; 2 Sam 23:3; 22:2-3, 32, 47; Ps 62:3, 7-8; 73:26; 78:35; 94:22; Jes 17:10; Hab 1:12  (3) Ps 57:2; Rut 2:12; Ps 36:8; vgl Jes 30:2  (4) Mat 27:43; 2 Kor 1:9
.
Vers 39 verwoord tien keer ‘Ek/my’. Die wrede nasie moet besef dat dit Ek, ja Ek  is1 met wie hulle te doen het.  Die voornaamwoord ek verwys na een persoon wat verskil van alle ander persone. Die ander is jy, hy en sy, nie ek nie (vgl 2 Sam 24:17). Hoe meer klem op Ek, hoe meer word die een Ek van al die ander onderskei.  Die Ek is onvergelykbaar: daar is geen gode saam met My nie;2 daar is niemand wat uit my hand red nie.3
(1) Jes 41:4; 43:10, 13; 46:4; 48:12; 52:6  Vgl Ek is (Eks 3:14), Ek is Jahwêh (154 x), Ek is God (12 x), Ek is Jahwêh, jou/julle/… God (53 x) en Dit is Ek, ja Ek  (εγω ειμι, Jesus) in die NT (43 x). (2) Deut 4:35, 39; 6:4; 1 Sam 2:2; 2 Sam 7:22; 2 Kon 5:15; 1 Kron 17:20; Jes 43:12; 44:6; 45:5-6, 18, 22; 46:9; Mark 12:32; Hand 4:12; Openb 5:4-5  (3) Job 10:7; Jes 5:29; 43:13; Dan 8:4; Hos 5:14; vgl Sef 2:15
.
Ek verwys altyd na die eerste persoon enkelvoud as spreker. Hy openbaar Homself. Hy is die regverdige Regter wat uitspraak gee en vloek of seën stuur: Ek, ja Ek maak dood en Ek maak lewend!1  Ek verbrysel en Ek, ja Ek genees!2
(1) 1 Sam 2:6; 2 Kon 5:7; Deut 30:15-19; Jer 21:8-9; Eseg 13:19; 33:11; Mat 25:31-46; Openb 1:17-18; 2:8-10  (2) Job 5:18; Jes 30:26; 57:17-18; Hos 6:1-2
.

Ek maak lewend. Hos 6:1-2 wil Israel bemoedig.  Al verskeur Hy soos ‘n leeu sy volk (5:14), sal Hy hulle tog weer na twee, drie dae genees en lewend maak.  Die oorblyfsel moenie moed verloor nie, dit kan ‘n tydjie of selfs lang duur, maar Hy sal hulle weer laat opstaan (Calvyn).  Dit is nog breër uitgewerk in die profesie oor die dor bene wat lewend word (Eseg 37:1-14) en het realiteit geword in die opstanding van Jesus Christus.  Hy is oor ons sondes verskeur en het werklik gesterf, want Hy was twee, drie dae in die graf, die doderyk.  Maar die Vader het sy dodelike wonde genees.  Hy het opgestaan.  As ons saam met Hom gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe (Rom 6:8; 8:11).

Vonnis: beëdigde vloek, pyl en swaard (Deut 32:40-42)

27.  Ek hef my hand ten hemel op en sweer:
Sowaar as Ek vir altyd, ewig leef,
My swaard wat flits gaan Ek weer vlymskerp maak
en so my haters vir my wraak laat beef.
40a want Ek sal my hand na die hemel ophef
40b en sê: So waar as Ek ewig leef –
41a as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het
41b en my hand na die strafgerig gryp,
41c sal Ek wraak oefen op my teëstanders
41d en my haters vergelde.
28.  Ek maak my pyle dronk met hulle bloed   
en laat my swaard hul heeltemal verslind;       
die bloed van dié wat op die slagveld val,       
die kop van woeste held en satanskind.
42a Ek sal my pyle dronk maak van bloed,
42b en my swaard sal vlees eet:
42c van die bloed van hom wat verslaan en gevang is,
42d van die kop van die vyand se aanvoerders.
Soos in die saak teen Israel, volg na die bevinding die vonnis: pyl en swaard!1 Maar hier gaan dit met ‘n eed gepaard.  In ‘n verbond word die seën en die vloek ook met ‘n eed bevestig.  Engele en mense sweer by God2 of by iemand wat hoër as hulle is,3 maar God sweer by Homself,4 want niemand en niks is hoër as Hy nie.  Met ‘n eed waarborg Hy sy beloftes van land en verlossing5 en bevestig Hy sy komende toorn oor Israel6 en oor die nasies.7 Hier is nie sprake van die bewaring van ‘n oorblyfsel nie:8  al die teëstanders en haters9 word met pyl en swaard vernietig, want hulle giftige leer en dade is so dodelik soos pyl en swaard.10  Daar is geen grys gebied nie. Hy wat nie met My is nie, is teen My.11
(1) Ps 7:13; Jes 34:5; 66:16; Jer 46:10, 14; 49:37; Eseg 21:28; 28:23; 30:4, 11; 31:17-18; 32:20-32; 35:8; Nah 2:13; 3:3; Sef 2:12  (2) Dan 12:7; Openb 10:5-6; Gen 14:22; 24:3; 2 Kon 3:14; 5:20; Rut 3:13; Jer 38:16. (3) 1 Sam 1:26; 25:26; 2 Sam 11:11  (4) Gen 22:16-17; Jes 45:23; Jer 22:5; Hebr 6:13-17  (5) Eks 6:7; 32:13; Num 11:12; 14:30; Neh 9:15; Jes 49:18; Eseg 20:5-6; 20:28; 20:42; 47:14; Luk 1:73  (6) Num 14:21, 28-30; Ps 106:26; Jer 22:24; Eseg 5:11; 14:16, 18, 20; 16:48; 17:16; 17:19; 18:3; 20:3, 20:15; 20:23; 20:31; 20:33; 33:27; 34:8; 44:12  (7) Jes 45:23 = Rom 14:11; Jer 46:18; Eseg 35:6; 35:11; 36:7; Sef 2:9  (8) Jer 46:28  (9) Deut 7:10; Ps 21:9; 44:8; 89:24; 106:10  (10) Ps 7:13-14; 45:4-6; 57:5; 64:4; Spr 25:18  (11) Mat 12:30
.
Kop van aanvoerders = kop met-lang-los-hare (KB, BDB) = woeste helde, baasvegters wat toegewy is (aan die ondergang van Israel).  Mense met lang hare is nasireërs wat hulle hare moet laat groei as teken van toewyding en doelgerigte kraginspanning;1 die oorlogshelde in Debora se lied;2  Simson, die woeste nasireër en rigter; en Absalom, die prins wat hom aan die val van sy vader Dawid toegewy het.4  Sulke toegewyde baasvegters word verslaan, soos die held Goliat wie se kop Dawid met die reus se eie swaard afgekap het.5
(1) Num 6:5 ev; Hand 21:23-24. (2) Rigt 5:2; Ps 68:22. (3) Rigt 14:6. (4) 2 Sam 14:25-26. (5) 1 Sam 17:46, 51
.

Gog en Magog en Deut 32. Esegiël moet teen Gog in die land Magog (38:2) profeteer dat hy na baie dae, aan die einde van die jare saam met baie volke ‘n finale aanslag op Israel sal loods (38:8, 16), maar tevergeefs, want hulle sal op die berge van Israel val en aan die roofvoëls en wilde diere as maaltyd gegee word (39:4) in die aasvoël-restourant van God:

Sê vir die voëls van allerhande vere en vir die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, ‘n groot slag-offer op die berge van Israel; en eet vleis en drink bloed. Vlees van die helde sal julle eet en bloed van die vorste van die aarde drinkramme, lammers en bokke en stiere, vetgemaakte diere van Basan almal saam – vet sal julle eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is, van my slagoffer wat Ek vir julle geslag het. (Eseg 39:17-19).1

Esegiël beskryf in hierdie verse die laaste oordeel oor die vyandige nasies met woorde uit Moses se lied.  Die onderstreepte woorde kom almal uit Deut 32:8-14 (weldade, maaltyd), 17 (afgodediens), 22 (oordeel oor Israel), 38-43 (oordeel oor die nasie) en uit Deut 28:26 (voëls van die hemel en wilde diere van die aarde). Die ou bekende woorde is op ‘n nuwe manier ineengevleg om ‘n nuwe mosaïek te vorm soos dikwels in Openbaring en lofsange gebeur.2
(1) Vgl Openb 19:17-18; Mat 24:28; Jes 34:3-8; Jer 46:10; asook 1 Sam 17:46; 2 Sam 21:10; Ps 79:2; Jer 7:33; 15:3; 16:4; 34:20; Eseg 31:6, 13; 32:4; 38:20; Hos 4:3. (2) van der Waal, 1981, bl 275.
.

Die lyn vanaf Deut 32 na Eseg 38-39 word in Openbaring 19 en 20 verder getrek na twee versamelings van vyandige magte: eers na die vyandige verbondsvolk en dan na die vyandige nasies (die gewone volgorde).  In Openb 19:17-19 is dit die konings van die Land en hulle leërs wat deur die Dier (= anti-Lam, v d Waal, 1981:  241) en sy valse Profeet verlei is (valse profete tree in die verbondsvolk op) en in Openb 20:7-10 is dit Gog en Magog en die nasies wat deur die Satan verlei is.  Almal word verslaan: die vyandige leërs, die Dier, die valse Profeet, die Satan en ten slotte ook nog die laaste vyand, die Dood (Openb 20:11-15, 1 Kor 15:26).

Volledige verlossing van alle vyande! Nou kan die nuwe Jerusalem neerdaal en soos die nuwe tempel in Eseg 40 ev gemeet word:  dit is geskik vir die heilstyd wat aangebreek het, vir die realisering van die ou belofte:  God-met-ons, want dit voldoen aan en vervul die model van die tabernakel met al sy mate wat Jahweh aan Moses laat sien het (Eks 25:8-9; 39:42-43; 40:38).  ‘n Voorhof vir die heidene is nie meer nodig nie (Openb 11:2; 21:27).

SLOT VAN DIE GRIFFIER (Deut 32:43)
Dankbaarheid: Almal moet jubel (Deut 32:43)
.
29.  O nasies, juig en jubel met sy volk,
Hy sal die bloed van al sy dienaars wreek,
sy wraak sal al die vyande verslaan
en land en volk versoen, het Hy gespreek.
43a Jubel, o nasies oor sy volk,
43b want Hy sal die bloed van sy knegte wreek,
43c en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders
43d en versoening doen vir sy land en sy volk.
Na die uitspraak sluit die Griffier die hofsitting af met ‘n oproep aan al die nasies om saam met1 die oorblyfsel van sy volk te jubel oor die regspraak.  As Israel van Babel verlos word, is die ander nasies ook bly (Jes 14:3-8).  Die bloed van sy dienaars wat deur die wrede nasie (en Israel) vergiet is, ontheilig die Land.  Hy wreek sy knegte se bloed met die bloed van sy vyande,3 want slegs die bloed, die lewe4 van hulle wat dit vergiet het, kan die land versoen, reinig, skoon was.5 Die woord vir ‘versoen’ (כפר) in vers 43 is deur die Septuagint met εκκαθαιρω ‘reinig’ vertaal (Liddell).6
(1) LXX en Rom 15:10  (2) Jes 45:23; Rom 14:11; Filip 2:10  (3) Gen 4:10; 2 Kon 9:7; Job 16:18; Ps 79:10; Eseg 22:4; 24:8; Hab 2:8; Mat 23:34-36; 1Thes 2:15-16; Openb 6:10; 19:2 (4) Lev 17:11  (5) Num 35:33  (6) Vgl ook Eks 29:36 (versoenings > καθαρισμοϛ reiniging), Eks 29:37 en 30:10 (versoening > καθαριζω reinig); Jes 47:11 (om te versoen > καθαροϛ rein).
.

‘n Oorblyfsel van Israel is gered en die wrede vyand is verslaan.  ‘n Nuwe tyd breek aan vir die volk in Jahweh se skoongewaste Land.  Hallelu-jah! Loof Jah-weh! (Openb 19:1-7).

Die nasies wat jubel verwys terug na die herhaalde belofte aan Abraham dat al die nasies in hom geseën sal word1 en wys vooruit na Openb 7:9 ev waar alle nasies en stamme en volke en tale uitroep:  Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!  Die wat jubel is sy dienaars uit die nasies wat hulle klere wit gemaak het in die bloed van die Lam.  Die Statebybel en BVA verbind die versoening in vers 43 met die Messias.  Jesus is onder die misdadigers gereken, by die Here se vyande ingesluit, want Hy is met al ons sondes belaai.2  Die dreiging dat God sy volk sal verlaat in Deut 31:17 is ten volle aan Hom vervul.  Hy is die hoëpriester en die plaasvervangende bul en sondebok wie se bloed op die goue versoenplaat tussen die gerubs gesprinkel is.3  Sy bloed is die bloed van die Paaslam aan ons deurposte.4
(1) Gen 12:3; 18:18; 22:18; vgl Ps 22:28; 47:2; 66:8; 67:4-6; Jer 31:7+30:21; Rom 15:9-13 (2) Jes 53:12; Mark 15:28; Luk 22:37; vgl Lev 16:21  (3) Lev 16; Hebr 9:12, 24-26; Openb 5:6; vgl Rom 3:25; 5:11; 2 Kor 5:18-19; Kol 1:20-21; Hebr 1:3; 2:17; 1 Joh 1:7; 2:2; 4:10  (4) Eks 12:7, 13; Joh 1:29, 36; 1 Petr 1:19; Openb 5:6, 12-13