Die verbondsopdragte aan man en vrou

AFD 4.  DIE OPDRAG AAN VROUE OM MOEDER TE WEES IN 1 TIM 2:15

Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking met inge­toënheid.  Köstenberger het dié moeilike teks deeglik ondersoek en gee die volgende uitleg:  Die ‘hulle’ is nie haar kinders nie, maar gelowige vroue, vergelyk die wisseling tussen vroue en vrou in 2:9-12.  Die redding van die vrou het betrekking op haar redding van Satan se gevaarlike aanslae in hierdie lewe (sien 1 Tim 5:14-15 en die “preservation from satan” theme in the Pastorals). Geboorte gee aan kinders is ‘n kernaanduiding van ‘n omvattender opdrag: “not merely the bearing, but also the raising of children, as well as managing the home.”  Die skrywer kon genoem het dat geloof, liefde en heiligmaking ook opdragte aan die man is 11 Kor 16:13-14; 1 Thess 4: 3; Sondag 33  en dat ingetoënheid betrekking het op vroue, 21 Tim 2:9, 15; Tit 2:5  op mans 3Mark 5:15; Luk 8:35; Hand 26:25; 1 Tim 3:2; Tit 1:8; 2:2, 6  en op alle gelowiges. 4Rom 12:3 (besadig); 2 Kor 5:13 (by ons verstand); 2 Tim 1:7 (selfbeheersing); Tit 2:12; 1 Petr 4:7   Ingetoë is om nie uitsinnig, oordadig of ekstreem op te tree nie, maar verstandig, nugter en beheersd.

Die volgorde in 1 Tim 2:13-15 “is from creation (v. 13) to the fall (v. 14) to a restored creation order (v. 15).”  Die skeppingsorde wat herstel is, is die opdrag om te vermeerder in Gen 1:28, maar volgens Köstenberger nie die kinders kry in Gen 3:16 nie.  As hy behalwe die straf ook die genade en die herstel van die skeppingsorde in Gen 3:16 sou raakgesien het, dan kon hy Gen 3:16 by Gen 1:28 gevoeg het.  Die volgorde in 1 Tim 2:13-15 en Gen 3 is dieselfde:  skepping, sondeval en hernuwing van die opdrag om moeder en helper te wees.

Spr 31 spel breër uit wat die herstelde skeppingsorde vir die gelowige vrou alles kan behels.  Sy is geensins ‘n onderdrukte slavin, ‘n Victoriaanse poppie, ‘n verwoede aktivis vir vroueregte, of ‘n mededingster in skoonheidswedstryde nie.  Sy is ‘n op en wakker huisvrou wat haar man onder­steun, sy rol as oudste in die poort respekteer, haar huisgesin versorg, bediendes bestuur, grond koop en ‘n wingerd  aanplant, spin en weef, armsorg beoefen, handel dryf, en wys en verstandig is soos Abigail. 51 Sam 25:33   ‘n Vrou wat die Here vrees en op sy Woord vertrou is wys en moet geprys word. 6Spr 1:7; 9:10; 31:30-31

Soos in Gen 1-3 is die verbondsopdrag aan die getroude vrou in 1 Tim 2:15 om kinders te kry, hulle op te voed in die vrees van die Here en die huis te bestuur, terwyl sy soos alle gelowiges verstandig en beheersd haar take verrig in geloof, liefde en heiligheid.  Langs hierdie weg sal sy gedurig van die aanvalle van satan gered word.

Voetnote

Voetnote
1 1 Kor 16:13-14; 1 Thess 4: 3; Sondag 33
2 1 Tim 2:9, 15; Tit 2:5
3 Mark 5:15; Luk 8:35; Hand 26:25; 1 Tim 3:2; Tit 1:8; 2:2, 6
4 Rom 12:3 (besadig); 2 Kor 5:13 (by ons verstand); 2 Tim 1:7 (selfbeheersing); Tit 2:12; 1 Petr 4:7
5 1 Sam 25:33
6 Spr 1:7; 9:10; 31:30-31